Central SA
Noordwes-man veg om sy lewe ná beweerde plaasaanval─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:47 Wed, 28 Oct 2026
’n Politieke party vra die president opnuut om plaasmoorde te prioritiseer terwyl ’n man van Noordwes om sy lewe veg ná ’n beweerde plaasaanval.
Donovan Marx veg om sy lewe in ’n Potchefstroomse hospitaal nadat hy Woensdag (28/10) kort ná 08:00 op ’n plaas tussen Potchefstroom en Ventersdorp gemartel en geskiet is. Die besonderhede van die beweerde marteling is so ontstellend dat die party dit nie bekend wil maak nie, sê dr. Corné Mulder, VF Plus-leier.
Die aanval, wat die party as buitengewoon wreed beskryf, het plaasgevind nadat ’n gesinslid kort voor 08:00 die plaas verlaat het om te gaan werk. Een van die plaaswerkers is na bewering deur die aanvallers vasgebind, maar kon later daarin slaag om homself los te wikkel en alarm te maak.
“Donovan is van agter in die rug geskiet en dokters het vanoggend nog probeer om die koeël te verwyder,” sê Mulder.
'Plaasaanvalle gaan merendeels gepaard met erge geweld en marteling'
’n Intensiewe soektog na die aanvallers is onmiddellik van stapel gestuur, maar hulle is steeds op vrye voet. Mulder sê die verdagtes het na bewering met Donovan se bakkie van die toneel gevlug.
“Plaasaanvalle gaan merendeels gepaard met erge geweld en marteling, soos in hierdie geval. Dit kan nie meer as gewone misdaad afgemaak word nie.”
Die party doen opnuut ’n beroep op Cyril Ramaphosa om die werklikheid van plaasmoorde te erken en hom tot doelgerigte optrede te verbind om dit te prioritiseer.
“Solank as wat die land se president plaasmoorde ontken en weier om opdrag te gee dat die voorkoming daarvan spesiale aandag geniet, en solank hy weier om aanhitsing tot aanvalle op boere stop te sit, soos die sing van die lied ‘Kill the Boer’, so lank sal die aanvalle voortduur,” sê Mulder.
Agri Ottosdal vra intussen inwoners moet Donderdag om 08:45 opruk na die plaaslike landdroshof om die borgtog in ’n ander saak teen te staan.
Hannetjie van Zyl (55) is op 5 Oktober by die plaashek van hul plaas op die Doornpan-pad aangeval terwyl sy besig was om die hek oop te maak. Sy is na bewering met ’n onbekende voorwerp aangerand.

Haar man, Sarel van Zyl, het haar ná die aanval aangetref en hulp ontbied. Sy is kort daarna aan ernstige kopbeserings dood, ondanks pogings om haar lewe te red.
Martin Boitumelo Mosime (28) en Moleko Sekwaage (29) is kort ná die moord in hegtenis geneem. Hulle doen na verwagting Donderdag aansoek om borgtog.
OFM Nuus cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

