Central SA
Noordwes-boer se marteling wys plaasaanvalle verg spesiale aandag – Ian Cameron─── 12:19 Thu, 29 Oct 2026
Die marteling van ’n beesboer in Noordwes wys waarom plaasaanvalle voorkeur moet geniet wanneer die polisie misdaadbekamping beplan.
Ian Cameron, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie, vra die ondersoek na die aanval moet dringend geprioritiseer word. Die buitengewone geweld, afgeleë ligging van plase en afstand van noodhulp onderskei sekere plaasaanvalle van ander geweldsmisdaad, meen hy.
Hy beklemtoon spesiale aandag aan plaasveiligheid beteken nie dat die slagoffers van ander misdade minder belangrik is nie. Hy het al self die gevolge van plaasaanvalle gesien waarin slagoffers met kookwater en warm strykysters gemartel is. In ander gevalle is gate deur mense se hande en voete geboor. Sommige slagoffers word volgens hom ure lank aangehou en gemartel.
Donovan Marx (50) is Woensdagoggend (28/10) op sy plaas tussen Potchefstroom en Ventersdorp aangeval. Sy ore is afgesny, hy is geskiet en met ’n skerp voorwerp in sy been gesteek. ’n Plaaswerker is ook vasgebind, maar kon homself bevry en hulp ontbied.

Ian Cameron. Foto: Parlement
Marx is ná die aanval in ’n Potchefstroomse hospitaal opgeneem. Sy swaer Pieter Steyn het Woensdag bevestig hy is in ’n stabiele toestand en ontvang mediese behandeling. Die aanvallers het na bewering met sy bakkie gevlug.
Suid-Afrika se nasionale plattelandseveiligheidstrategie van 2019 erken die besonderse omstandighede van plaasaanvalle. Cameron vra dat ervare speurders, forensiese kundiges en misdaadintelligensiepersoneel die ondersoek na Marx se aanval ondersteun, terwyl die familie deurentyd oor verwikkelinge ingelig word.
Voorts vra hy polisiemanne en -vroue op die platteland moet behoorlik toegerus word om afgeleë gemeenskappe te bereik. Cameron veroordeel ook die gebruik van die lied “Kill the Boer” op politieke verhoë en enige verheerliking van plaasmoorde op sosiale media.
Ernst van Zyl, hoof van openbare betrekkinge by AfriForum, spreek eweneens sy ontsteltenis oor die aanval uit. Hy weier om die marteling van ’n boer wie se ore afgesny is, bloot as gewone misdaad te aanvaar.
Van Zyl kritiseer ook wat hy as ongelyke dekking van plaasaanvalle deur Afrikaanse en Engelstalige media beskou. Volgens hom dra gebrekkige aandag by tot die ontkenning of afwatering van die erns van plaasaanvalle deur sommige politici en kommentators.
Die VF Plus-leier, dr. Corné Mulder, het vroeër opnuut ’n beroep op pres. Cyril Ramaphosa gedoen om plaasmoorde te prioritiseer. Hy meen die wreedheid waarmee sulke aanvalle gepaardgaan, vereis doelgerigte optrede en groter aandag aan die veiligheid van landelike gemeenskappe.
Elders in Noordwes is die boervrou Hannetjie van Zyl (55) op ’n plaas buite Ottosdal vermoor. Sy is op 5 Oktober by ’n plaashek aangeval en het aan ernstige kopbeserings beswyk. Twee verdagtes is in hegtenis geneem en sou Donderdag (29/10) in Ottosdal se landdroshof om borgtog aansoek doen. Die landbougemeenskap is sterk daarteen gekant.
OFM Nuus cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

