Click on the warning image to view this post
Central SA
Noordwes-boer kritiek maar stabiel ná wrede aanval─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:02 Thu, 29 Oct 2026
’n Boer van Noordwes is kritiek maar stabiel in die hospitaal nadat hy wreed gemartel en vermink is tydens ’n aanval op sy plaas tussen Potchefstroom en Ventersdorp.
Donovan Marx (50) moes Woensdag (28/10) ’n dringende operasie in Mediclinic Potchefstroom ondergaan nadat een van sy niere tydens die aanval beskadig is. Dokters kon die nier red, sê André Strydom, ondervoorsitter van Agri-Noordwes.
Die aanvallers het omstreeks 08:00 op die plaas toegeslaan, die elektriese heining geknip en ’n plaaswerker wat gras gesny het, oorrompel en vasgebind. Marx was in daardie stadium by sy beeste en het omstreeks 08:30 na die erf teruggekeer.
“Die aanvallers het Marx die huis binnegedwing en hom gedwing om ’n klein kluis oop te sluit. Daarin was ’n 9 mm-pistool en ’n .38 Special-rewolwer.
“Hulle het sy ore afgesny en hom, vermoedelik met een van hul eie pistole, deur die rug geskiet,” sê Strydom. Die koeël is deur sy liggaam en by die maag uit. “Die aanvallers het ook probeer om Marx se geslagsdele af te sny. Hulle het hom in die proses met ’n skerp voorwerp in die been gesteek.”
Die aanvallers het daarna in Marx se rooi bakkie in die rigting van Potchefstroom gevlug. Die plaaswerker kon hom later loswikkel. Toe die aanvallers hom vir sy selfoon vra, het hy gesê hy het nie een nie.
Sy selfoon was egter op die vensterbank, waar hy dit gelos het voordat hy gras gaan sny het. Hy kon dit gebruik om Marx se vrou, wat sowat ’n halfuur se ry van die plaas af was, te bel. Sy het haar saam met haar broer na die toneel gehaas.
Strydom sê Marx het, terwyl hy in ’n plas bloed gelê het, die plaaswerker gevra om sy afgesnyde ore in die yskas te sit. Nooddienste het later opgedaag en Marx hospitaal toe geneem.
Strydom het kort ná die voorval na die plaas gery nadat boere mekaar oor die aanval gewaarsku en begin het om paaie vir verdagte voertuie dop te hou. Hy was een van ses boere wat reeds op die toneel was voordat die polisie opgedaag het.
“Die plaaswerker het vertel dat dit glo dieselfde mense is wat sowat twee weke tevore reeds daar was en vrae gevra het,” sê Strydom
Die landbougemeenskap van Ventersdorp en Potchefstroom het intussen ’n beloning van R40 000 uitgeloof vir inligting wat tot die inhegtenisneming en suksesvolle vervolging van die aanvallers lei.

Noordwes-polisie bevestig niemand is nog in hegtenis geneem is nie. Drie verdagtes is steeds op vrye voet, sê kapt. Majang Skalkie, provinsiale polisiewoordvoerder.
Die polisie ondersoek die voorval as ’n huisroof en ’n saak van poging tot moord.
Lt.genl. Arthur Peter Adams, provinsiale polisiekommissaris, veroordeel die aanval en vra die publiek om enige inligting wat tot die verdagtes se inhegtenisneming kan lei, met die polisie te deel.
Enigeen met inligting oor die aanval kan speurkapt. Bonita Dry, bevelvoerder van die Ventersdorp-speurtak, by 082 373 7781 nader of Stop Misdaad by 08600 10111 bel. Anonieme wenke kan ook vanaf ’n slimfoon deur die MySAPS-app gestuur word. Alle inligting sal as vertroulik beskou word.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 0664871427.

