Central SA
9-jarige se vermeende moordenaar laat vaar borgtogaansoek─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:39 Fri, 30 Oct 2026
’n Noord-Kapenaar wat van die moord op ’n negejarige kind beskuldig word, sal nog ses weke agter tralies deurbring nadat hy sy borgtogaansoek laat vaar het.
Willem Kooper (26) se moordsaak is tot 7 Desember vir verdere ondersoek uitgestel. Hy het Donderdag (29/10) in die Upingtonse landdroshof verskyn vir die moord op Heinrich Human, ’n leerling aan die Intermediêre Skool Frank Biggs op Louisvale, naby Upington, sê Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder.
Kooper, wat enkele dae ná die moord op 18 Oktober sy eerste hofverskyning gemaak het, is op 2 Julie 2021 aan moord skuldig bevind. Hy is in dieselfde jaar op 7 Julie in ’n afsonderlike saak ook skuldig bevind aan statutêre verkragting en aanranding met die doel om ernstig te beseer.
“Hy is agt jaar gevangenisstraf vir moord en vyf jaar vir aanranding opgelê. Hy is op 20 Augustus 2025 op parool vrygelaat, wat tot 1 Julie 2029 sou duur.” sê Senokoatsane
Heinrich is glo in die vroeë oggendure met ’n mes gesteek. Hy is op die toneel dood verklaar. “Die polisie is omstreeks 03:00 na die toneel ontbied, waar hulle die kind in ’n plas bloed op ’n bed aangetref het,” het kapt. Thabo Litabe, provinsiale polisiewoordvoerder, vroeër gesê.
Die staat beweer Kooper was in ’n verhouding met ’n familielid van die seun. Die paartjie het na bewering die aand voor die voorval ’n rusie gehad, waarna die vrou die perseel verlaat het om verdere konfrontasie te vermy.
Sy het nie daardie nag teruggekeer nie. Kooper het glo na die huis teruggekeer en die kind met die mes gesteek in die kamer waar die vrou gewoonlik oornag. Elouise du Plessis kla aan.
“Die NVG beskou misdade wat geweld teen kinders behels in ’n uiters ernstige lig. Kinders is van die mees kwesbare lede van die samelewing en moet teen geweld en mishandeling beskerm word. Die vervolging sal verseker die beskikbare bewyse sal behoorlik voor die hof gelê word en dat die saak ooreenkomstig die wet verloop,” sê hy.
OFM Nuus dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

