Central SA
Kinders vrees glo vir hul lewe nadat hulle Ottosdal-plaasmoord sien gebeur─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:55 Fri, 30 Oct 2026
Twee minderjarige getuies vrees glo vir hul lewe sou die mans wat van ’n Noordwes-boervrou se moord aangekla word, op borgtog vrygelaat word.
Die kinders (12 en 14) het na bewering die aanval op Hannetjie van Zyl (55) naby Ottosdal gesien plaasvind. Martin Boitumelo Mosime (28) en Moleko Sekwaage se borgtog is Donderdag (29/10) deur die staat teengestaan.
“Die aanklaer het verwys na die erns van die aanklagte en die moontlike bedreiging van die veiligheid van staatsgetuies,” sê kapt. Kelebogile Morake, provinsiale polisiewoordvoerder.
Die twee staan tereg op aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede nadat Van Zyl op 5 Oktober by die plaashek aangeval is. Sy is met ’n ysterpyp teen die kop geslaan en het later aan haar beserings beswyk.
Ao. Kgomotso Mogorosi, die ondersoekbeampte, het tydens die borgtogverrigtinge in die Ottosdal-landdroshof getuig die kinders is bekommerd die verdagtes kan hulle doodmaak indien hulle vrygelaat word.

Hannetjie van Zyl en haar man, Sarel. Foto verskaf
Morake sê Mogorosi het ook in die hof getuig oor Sekwaage se vorige veroordelings, wat onder meer aanranding, huisbraak en pogings tot diefstal insluit.
Die borgtogaansoek het ’n wending geneem toe die beskuldigdes aanvanklik meegedeel is dat hulle hul aansoeke laat vaar, maar daarna gesê het hulle wou voortgaan. Mosime het uiteindelik ingestem om sy aansoek terug te trek, terwyl Sekwaage volgehou het dat hy steeds om borgtog wil aansoek doen.
Sekwaage se regshulpprokureur het daarna sy mandaat beëindig. Die saak is tot 24 November uitgestel sodat Sekwaage ’n nuwe regshulpprokureur kan kry.
Intussen is ’n petisie wat deur Agri Ottosdal opgestel is, in die hof as ’n bewysstuk ingedien, sê Naudé Pienaar, uitvoerende hoofbestuurder van Agri Noordwes. “Dit vra strenger en doeltreffender vervolging van plaasmoorde en ander ernstige geweldsmisdrywe.”
Die Noordwes-polisie het vroeër bevestig die twee verdagtes is in hegtenis geneem nadat ’n getuie hulle glo geïdentifiseer het. ’n Derde vermeende medepligtige is steeds op vrye voet. Van Zyl is Woensdag 14 Oktober ter ruste gelê.
OFM Nuus dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

