On Now
Weekends 13:00 - 16:00
Saterdag Siësta OFM
Show Background
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Central SA

Familie vra hou op gerugte versprei oor Donovan Marx

───   11:09 Sat, 31 Oct 2026

Familie vra hou op gerugte versprei oor Donovan Marx | News Article
Donovan en Louise Marx. Foto verskaf

Die familie vra ’n einde aan vals gerugte oor Donovan Marx, ’n beesboer van Noordwes, en beklemtoon dat sy ernstige beserings langdurige behandeling sal verg.

Die familie van Marx wat Woensdagoggend (28/10) op sy plaas tussen Potchefstroom en Ventersdorp aangeval en gemartel is, bevestig dat hy steeds in ’n stabiele toestand in intensiewe sorg is, maar vra dringend dat vals gerugte oor sy beserings nie verder versprei word nie.

Sy vrou, Louise Marx, en die familie bevestig in ’n verklaring van Saterdag (31/10) dat hy steeds in Mediclinic Potchefstroom se intensiewesorgeenheid behandel word. Die 50-jarige is tydens die aanval geskiet, met ’n mes gesteek, geskop en geslaan. ’n Plaaswerker is ook vasgebind, maar kon hom later bevry en hulp ontbied. Aanvallers het volgens vroeëre berigte met die boer se bakkie van die plaas gevlug.

Volgens die familie het ’n koeël deur Marx se nier beweeg nadat hy in die rug geskiet is. Sy dikderm is ook beskadig, en dokters moes ’n gedeelte daarvan chirurgies verwyder. Hy het verder ’n messteekwond aan sy been opgedoen.

Albei sy ore is tydens die marteling afgesny en kon nie chirurgies gered word nie. Die familie is meegedeel dat prostetiese oorrekonstruksie moontlik in die toekoms oorweeg kan word, maar dit sal van verdere mediese ondersoeke en sy herstel afhang.

Terselfdertyd verwerp die familie uitdruklik gerugte op sosiale media dat Marx se geslagsdele verwyder is. Dié bewerings is geheel en al onwaar, lui die verklaring. Sy naasbestaandes vra dat mense ophou om onwaarhede en sensasionele besonderhede oor sy lyding te versprei.

‘Dit sal tyd verg voordat hy kan herstel’

Volgens die familie is hulle dankbaar vir die vordering wat Marx reeds toon, asook vir die behandeling wat hy ontvang. Tog is sy beserings ernstig en sal dit tyd verg voordat hy kan herstel. Sy waardigheid, privaatheid en die emosionele welstand van sy naasbestaandes moet gerespekteer word.

Die polisie se ondersoek na die aanval is volgens die familie in ’n sensitiewe stadium. Hulle sê hulle het vertroue dat ondersoekers die saak deeglik hanteer en werk deur hul regsverteenwoordigers met die owerhede saam om die strafregtelike proses te ondersteun. Hulle beklemtoon dat openbare bespiegeling en ongeverifieerde besonderhede die ondersoek kan bemoeilik.

Geen nadere besonderhede oor moontlike verdagtes, ondersoekleidrade of die presiese gebeure sal tans deur die familie bekendgemaak word nie. Hulle vra ook dat ander mense nie sulke inligting in die openbaar bespreek op ’n manier wat die ondersoek kan benadeel nie.

Die familie bedank intussen gemeenskappe landwyd, veral uit die omgewing van Ventersdorp en Potchefstroom, vir gebede, boodskappe, aanbiedinge van hulp en ander gebare van ondersteuning. Hulle spreek ook waardering uit teenoor mediese personeel, nooddienswerkers en veiligheidsrolspelers wat ná die aanval bygestaan het en steeds hulp verleen.

Louise en die familie vra dat die publiek steeds vir Marx, sy mediese span en sy naasbestaandes sal bid. Hulle onmiddellike prioriteit bly sy mediese behandeling en herstel in die komende maande, terwyl die polisie die nodige ruimte moet kry om die aanvallers op te spoor en die ondersoek af te handel.

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.