Central SA
Noord-Kaapse polisie ‘gereed om verkiesing te beskerm’─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:01 Wed, 04 Nov 2026
Die Noord-Kaapse polisie waarsku daar sal geen genade vir verkiesingsoortredings wees nie.
Beamptes is oor die provinsie heen ontplooi om toe te sien dat die munisipale verkiesing vreedsaam en veilig verloop. “Die polisie sal streng optree teen enigiemand wat probeer om die proses te ontwrig of kiesers te intimideer,” sê brig. Mashay Gamieldien, provinsiale polisiewoordvoerder.
Polisielede is by geïdentifiseerde stemlokale en strategiese punte geplaas. Die distrikskommissarisse van Frances Baard, Pixley ka Seme, ZF Mgcawu, Namakwa en John Taolo Gaetsewe het voor die ontplooiing afsonderlike parades gehou waar hulle oor hul operasionele opdragte ingelig is.

Noord-Kaapse polisiebeamptes maak gereed om stembusse en kiesers op stemdag te beskerm. Foto verskaf
Gamieldien sê die parades is daarop gemik om te verseker alle lede is voorbereid en weet hoe om hul pligte tydens die verkiesing uit te voer. “Die polisie sal die verkiesingsproses monitor, patrollies doen en vinnig op enige voorvalle reageer. Hulle sal ook toesien dat kiesers, OVK-personeel en verkiesingsmateriaal beskerm word.”
Lt.genl. Koliswa Otola, provinsiale polisiekommissaris en ook voorsitter van die provinsiale gesamentlike operasionele en intelligensiestruktuur, sê die polisie, ander wetstoepassingsagentskappe en belanghebbendes werk saam om kiesers se demokratiese regte te beskerm.
“Geen intimidasie, geweld, ontwrigting of ander misdaad wat die integriteit van die verkiesingsproses bedreig, sal geduld word nie.” Hy sê die polisie sal voortgaan om verwikkelings in die provinsie te monitor en sal terugvoering gee oor enige ernstige voorvalle wat aangemeld word. Die veiligheid van inwoners bly hulle prioriteit.
OFM Nuus dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

