Central SA
Mangaung stroom na stembus, eis verandering─── SIYAKHOLWA MBATYAZWA 11:35 Wed, 04 Nov 2026
Groot getalle kiesers stroom in Mangaung na stemlokale met ’n sterk boodskap: Hulle soek verandering.
Kiesers by ’n stemlokaal in Fleurdal spreek die hoop uit dat die verkiesing ’n positiewe verskil in hul gemeenskap sal bring. Een kieser sê sy stem met haar dogter se toekoms in gedagte en hoop op positiewe veranderinge wat die volgende geslag sal bevoordeel.
Nog een sê sy hoop die verkiesing sal help om die chaos in dienslewering te beëindig sodat gemeenskappe weer normaal kan funksioneer.
Stephan Jacobs sê hy wil graag sien dat Bloemfontein dieselfde vlak van dienslewering as Mosselbaai in die Wes-Kaap bereik. Hy het dié dorp onlangs besoek en is beïndruk wat met daar gebeur.

Politieke partye wag vroegoggend kiesers in by die Brebner Primary School-stemlokaal. Foto: Christo van Staden
Thamsanqa Gxumayo (21) het sy stem uitgebring by Eunice School for Girls. “Wat ek graag in hierdie land, en veral in hierdie metro, wil sien verander, is groter jeugdeelname aan die verkiesingsproses. Ek wil hê meer jong mense moet gaan stem, hulself vergewis van die politieke kwessies en aktief betrokke raak.
“Ek wil ook sien dat meer mense uitkom en werklik ’n keuse uitoefen, eerder as om agteroor te sit en onbetrokke te bly deur nie aan die verkiesingsproses deel te neem nie.” Hy hoop op positiewe veranderinge in die aanstelling van werknemers, groter openbare deelname en veral groter betrokkenheid van die jeug.

Werner Pretorius sê dit raak hom om te sien hoe baie ouers hul kinders leer hoe belangrik dit is om te stem. Foto: Ditebogo Molefi
Werner Pretorius, die DA se burgemeesterskandidaat vir die Mangaung-metro, het sy vreugde uitgespreek oor die groot getalle kiesers wat reeds vroeg by stemlokale in Bloemfontein en die res van die metro opgedaag het.
Hy het vanaf 06:00 verskeie stemlokale besoek. “Dit is fantasties om te sien hoeveel mense reeds van vanoggend af uitgekom het om te stem. Ek het by verskillende stemlokale in Bloemfontein ’n draai gemaak en oral groot getalle mense in rye gesien.” Hy doen ’n beroep op inwoners om die geleentheid te benut om self te besluit wie die metro die volgende vyf jaar moet bestuur.
“Moenie toelaat dat iemand anders vandag namens jou besluit wie vir die volgende vyf jaar jou regering in Mangaung gaan vorm nie. Kom stem en laat jou stem tel.”
Volgens hom staan Mangaung by ’n belangrike kruispad. Kiesers moet besluit of hulle met swak dienslewering, verdere werkverliese en die agteruitgang van die metro wil voortgaan, en of hulle ’n nuwe rigting wil inslaan.
Itumeleng Liba, provinsiale bestuurder van die OVK, sê altesaam 1 604 stemlokale in die Vrystaat het Woensdag betyds geopen en was gereed om kiesers te ontvang. Meer as 10 000 personeellede is beskikbaar om kiesers by stemlokale in die provinsie by te staan.
Die Vrystaat het meer as 1,5 miljoen geregistreerde kiesers, en die OVK hoop dat ’n groot aantal van hulle deur die loop van die dag hul stemme sal uitbring.
Die Wynand Moutonpark-stemlokaal kon nie dadelik sy deure oopmaak nie, glo weens vertragings met die aflewering van verkiesingsmateriaal. Foto: Verskaf
Die grootste uitdaging vanoggend was die spoed waarteen die kiesersbestuurstoestelle gewerk het. OVK-verteenwoordigers het egter verskeie stemlokale besoek en waargeneem dat die situasie sedertdien verbeter het.
Kiesers het ook hul tevredenheid uitgespreek oor die verloop van die stemproses. LIba sê hulle hoop alles sal goed gaan totdat stemlokale om 21:00 sluit. Hy spreek ook die OVK se waardering uit teenoor alle betrokkenes, waaronder politieke partye, geregistreerde kiesers, inwoners en die veiligheidskluster, vir hul samewerking en bydrae tot die verkiesingsproses.
OFM Nuus/Siyakholwa Mbatyazwa en Ditebogo Molefi dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

