Central SA
Kort rye by Kimberley-stemlokale bekommer nie OVK─── 13:26 Wed, 04 Nov 2026
Kort rye en ’n rustige verloop van sake kenmerk die stemproses by verskeie stemlokale in Kimberley, maar die verkiesingskommissie (OVK) sê dit is nog te vroeg om gevolgtrekkings oor die eindelike kiesersopkoms te maak.
Die OVK sê hy is nie bekommerd oor die stadige vloei van kiesers teen Woendag (411) omstreeks 13:00 nie. Dit is ’n algemene neiging dat meer mense later die middag en vroegaand hul stemme uitbring, sê Elkin Topkin, provinsiale kiesbeampte.
Tydens ’n besoek aan byna nege stemlokale in Kimberley was daar deurgaans min beweging. Die langste ry wat waargeneem is, het uit ongeveer tien mense bestaan, terwyl kiesers by sommige stemlokale sonder enige wagtyd kon instap, stem en weer loop.
Politieke partye was wel sigbaar buite verskeie stemlokale, met verteenwoordigers, baniere, plakkate en tente. Die ANC, DA en VF Plus was onder die partye wat die meeste opgemerk is, terwyl die EFF en Patriotic Alliance ook by sommige stemlokale teenwoordig was.

Elkin Topkin, provinsiale kiesbeampte. Foto: Charne van der Merwe
Topkin sê die OVK verwag dat kiesersopkoms later die dag sal toeneem, veral tussen 17:00 en 19:00 wanneer mense ná werk gaan stem. “Daar is reeds ’n meer bestendige vloei van kiesers by groter stemlokale.”
Gedurende die spesiale stemproses wat oor die afgelope twee dae plaasgevind het, het ongeveer 67 000 kiesers spesiale stemme uitgebring. Die kommissie vergelyk die huidige verloop met vorige verkiesings, maar meen dit is nog te vroeg om die eindelike opkoms te bepaal.
Daar is 74 stemlokale in Kimberley en altesaam 735 in die Noord-Kaap. Die provinsie se stemlokale strek oor ’n uitgestrekte gebied, van Sutherland tot Alexanderbaai en Hondeklipbaai.
Topkin sê sommige stemlokale het verskeie diensstasies waar vier tot ses kiesers gelyktydig gehelp kan word. Dit help om lang rye te beperk en die vloei van kiesers te verbeter. Sowat 4 900 personeellede was ook die afgelope twee dae by die verkiesingsproses betrokke.

Stemmery verloop rustig by Kimberley Junior School. Foto: Charne van der Merwe
Die verkiesingsdag het egter nie heeltemal sonder voorvalle verloop nie. ’n Inbraak in die John Taolo Gaetsewe-distriksmunisipaliteit se stemlokaal in die vroeë oggendure het die stemproses vir ongeveer ’n uur en ’n half onderbreek voordat dit hervat kon word.
Stemlokale sal na verwagting om 21:00 sluit. “Kiesers wat teen sluitingstyd nog in ’n ry staan, sal steeds die geleentheid kry om hul stemme uit te bring,” sê Topkin.
Sodra die stemproses afgehandel is, sal die tel van stemme begin. Die OVK verwag om binne ongeveer 36 uur die finale uitslae te kan vaslê, terwyl die samestelling van die nuwe munisipale rade na verwagting teen Vrydag (6/11) duideliker sal wees.
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
* Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.
