On Now
Weekends 09:00 - 12:00
Classic Sundays Tony
Show Background
NEXT: 12:00 - 16:00 Classic Sundays with Christie
Listen Live Streams

Central SA

Vermiste vrou van Kimberley ongedeerd gevind

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 08:58 Sun, 08 Nov 2026

Vermiste vrou van Kimberley ongedeerd gevind | News Article
Toni Klein. Foto: Facebook

’n Vrou van Kimberley wat vroeër vandeesweek as vermis aangemeld is, is ná dae se soektog gevind.

Toni Klein (23) is Saterdag (7/1) omstreeks 21:00 deur haar suster en ’n vriend voor hul huis gevind. “Sy was sedert Maandag (2/11) vermis,” sê kapt. Nomthandazo Mnisi, provinsiale polisiewoordvoerder.

“Sy is daarna na ’n vriend se blyplek in Phutanang geneem waarna die polisie ontbied is.” Klein is na die hospitaal geneem vir mediese ondersoeke. Mnisi sê sy is nie seksueel of fisiek aangerand nie, maar die dokter gaan nog mediese ondersoeke doen. Die Noord-Kaapse polisie herinner die publiek daar is geen wagtydperk voordat ’n vermiste persoon by die polisie aangemeld kan word nie.


Die polisie doen ’n beroep op inwoners om enige verdwyning onmiddellik by hul naaste polisiekantoor aan te meld, aangesien vinnige optrede kan help om ’n vermiste persoon op te spoor. “Die ondersoek na vermiste persone geniet voorkeur en gemeenskappe se samewerking is noodsaaklik,” sê kol. Cherelle Ehlers, provinsiale polisiewoordvoerder.

Volgens die polisie se jongste verslag vir 2024/2025 is 4 924 vermiste persone op die polisie se nasionale verspreidingstelsel aangeteken, terwyl 6 236 gekanselleer is nadat die persone opgespoor is of hul besonderhede van die stelsel verwyder is. Die syfers verwys na die verspreidingstelsel en nie noodwendig na die algehele aantal nuwe verdwynings nie.

Aanmelding

  • Meld die vermiste persoon onmiddellik by jou naaste polisiekantoor aan.
  • Verskaf, indien moontlik, ’n onlangse foto van die vermiste persoon.
  • Gee besonderhede oor waar die persoon laas gesien is, asook ’n beskrywing van die klere wat hulle aangehad het.
  • Voltooi en onderteken ’n SAPS 55(A)-vorm. Dit beskerm die polisie teen vals aanmeldings en gee toestemming dat die persoon se foto en besonderhede versprei mag word.
  • Kry die ondersoekbeampte se kontakbesonderhede en hou die beampte op hoogte van enige nuwe inligting.
  • Indien die vermiste persoon opgespoor word of self terugkeer, moet die ondersoekbeampte onmiddellik daarvan in kennis gestel word.

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.