Central SA
Skoendoos en kospakkies vol liefde vir 450 gesinne dié Kersfees─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:53 Tue, 10 Nov 2026
Vir sowat 450 gesinne van Bloemfontein kan ’n skoendoos, ’n kospakkie of selfs ’n klein geskenk hierdie Kersfees ’n groot verskil maak.
Die organisasie Guardian & Angel wil vanjaar weer saam met die gemeenskap ’n verskil maak deur sy jaarlikse Kersprojek. Die projek is daarop gemik om geskenke en kospakkies aan meer as 450 gesinne en kinders in nood te voorsien, sê Hester Bekker, uitvoerende hoof en stigter.
Die publiek kan betrokke raak deur ’n skoendoos met noodsaaklike items en lekkernye vir ’n kind te pak, voedselprodukte te skenk of ’n geldelike bydrae te maak.
Guardian & Angel is in 2019 amptelik geregistreer, maar die liefdadigheidswerk het reeds voor dit onder die naam Guardian Angel begin.
Bekker se betrokkenheid by liefdadigheidswerk het ontstaan nadat sy gehoor het van ’n informele nedersetting in die kleinhoewegebied van Estoire, waar mense onder uiters moeilike omstandighede gewoon het.

“Ek het die kamp gedurende die winter besoek. Die omstandighede van die mense was ongelooflik sleg. Daar het ek besluit om my hele hart en siel in liefdadigheidswerk te stort en met minderbevoorregtes te werk.”
Die organisasie ondersteun ongeveer 450 gesinne, maar probeer ook om ander mense by te staan wanneer daar genoeg hulpbronne beskikbaar is. Die behoefte aan hulp neem voortdurend toe en die organisasie ontvang gereeld nuwe versoeke van mense wat sukkel om in hul basiese behoeftes te voorsien.
Elke aansoek gaan egter eers deur ’n assesseringsproses om vas te stel waar die nood die grootste is en te verseker skenkings bereik diegene wat dit die nodigste het.
“Ons gaan nie help waar dwelms en drank betrokke is nie. Wanneer mense om hulp aansoek doen, gaan ons deur die assesseringsproses en, indien hulle goedgekeur word, help ons waar ons kan.”

Vanjaar se Kersprojek is veral toegespits op skoendose vir kinders en kospakkies vir gesinne. Mense kan self ’n volledige skoendoos pak of individuele items skenk wat die organisasie gebruik om geskenkbokse saam te stel.
’n Algemene skoenboks kan onder meer ’n kledingstuk, tandeborsel en tandepasta, seep, ’n waslappie, skoolbenodigdhede, ’n speelding, lekkers en ’n kosblik met ’n sapbottel bevat.
Daar is ook spesifieke behoeftes vir verskillende ouderdomsgroepe. Vir babas tussen nul en 24 maande word babaklere, komberse, handdoeke, doeke, babaroom, babaolie en babakos benodig. Skoenbokse vir kleuters tussen twee en vier jaar kan klere, toiletware, speelgoed, kos en inkleurboeke bevat.
Vir meisies tussen twaalf en 18 jaar kan sanitêre doekies ook ingesluit word. Bekker sê daar is steeds ’n groot behoefte aan voedselprodukte vir die kospakkies, asook geskenke vir die kinders.

Niebederfbare produkte soos blikkieskos, suiker, mieliemeel, rys, pasta, tee, sojaprodukte en soppoeiers is van die items waarmee die publiek kan help. Langlewemelk, bone, lensies, koffie, beskuit, koekies en ander basiese voedselprodukte is ook welkom.
Die organisasie se Kersvieringe begin op 6 Desember, wanneer verskillende gemeenskappe by spesiale Kersboomgeleenthede bymekaarkom. Guardian & Angel ondersteun onder meer gesinne in Hilton, Oranjesig en Bloemspruit, asook kleiner dorpe soos Brandfort, Winburg, Edenburg en Reddersburg.
Tydens dié geleenthede word ’n ete aan die gesinne voorsien, waarna die Kersgeskenke en kospakkies uitgedeel word.
Woord gebring
“Ons bring die Woord na hulle toe en bedien hulle met die geskenke en kospakkies. Dit is iets wat hulle regtig baie waardeer, want dit help om darem iets op die tafel te sit oor die feestyd wanneer hulle nie so bevoorreg is soos ander mense nie,” sê Bekker.
Die projek is oop vir individue, skole, ondernemings en gesinne wat saam ’n skoendoos wil pak of ’n bydrae wil maak. Mense wat nie ’n volledige boks kan saamstel nie, kan steeds help deur individuele items of ’n geldelike bydrae te skenk.
Die organisasie kan ook Artikel 18A-belastingsertifikate vir kwalifiserende geldelike bydraes en skenkings van voedsel of geskenke uitreik, gebaseer op die waarde daarvan.
Vrywilligers is eweneens welkom om tydens die Kersboomgeleenthede te help met die uitdeel van kos en geskenke of bloot tyd saam met die gesinne deur te bring.

Mense wat byvoorbeeld gesigverf vir die kinders kan aanbied, kan ook ’n waardevolle bydrae lewer.
“Daar is so baie maniere waarop mense by die Kersprojekte kan help en ons sal dit regtig baie waardeer,” sê Bekker.
Vir die organisasie is die jaarlikse Kersprojek ’n besonder betekenisvolle geleentheid om iets terug te gee aan gesinne wat dikwels juis gedurende die feestyd onder groter finansiële druk verkeer.
“Dit is vir ons ’n voorreg om dit jaarliks vir hierdie mense te kan doen. Dit is dalk nie luukshede wat in die kospakkies is nie, maar dit is iets wat hulle regtig baie waardeer.”
Hoe om betrokke te raak
Skoenbokse, voedselprodukte en ander skenkings kan by die volgende adresse afgelewer word:
- Shortstraat 3, Bloemfontein Sentraal, 9301.
- Jan Kempsingel 42, Generaal De Wet, Bloemfontein.
Vir navrae oor skenkings, geldelike bydraes of vrywilligerswerk, nader Bekker by 072 423 6277 of 068 217 6895
OFM Nuus cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.
