Click on the warning image to view this post
Central SA
Omgeboude fietse vir ‘drifting’ nuwe gier, ook in Oos-Vrystaat─── SUSAN MARÉ 15:09 Tue, 10 Nov 2026
Gemodifiseerde motorvoertuie waarmee aan gevaarlike en onwettige straatwedrenne en drifbyeenkomste (drifting of car-spinning) deelgeneem word, skep gereeld uitdagings in onder meer die Kaapstad-metro.
Nou het ’n soortgelyke tydverdryf met omgeboude fietse in dele soos Soweto, maar ook in woonbuurte op Bethlehem begin posvat. Die deelnemers verwys daarna as spinning.
Die sport is deur car-spinning geïnspireer, wat ook as Gusheshe bekend staan.
Naledi Tsie (21) van Bohlokong het sy eienaardige fiets self gebou en dit is volgens hom een van sowat vyf soortgelyke fietse in die woonbuurt waar hy en sy familie bly.
In hul vrye tyd en oor naweke beoefen die eienaars fiets-spinning – waar hulle gewaagd met hul fietse kan spin (tol), gly en toertjies vertoon.

Naledi Tsie (21) van Bohlokong met sy eienaardige, omgeboude fiets. Foto verskaf
Die ryers beweeg teen ’n hoë spoed terwyl hulle rits, drif (gewaagde glye) en akrobatiese toertjies op hul aangepaste fietse uitvoer. Drif is eintlik ’n bestuurstegniek in motorsport waar die bestuurder doelbewus die traksie van die agterbande verloor sodat die motor sywaarts deur ’n draai gly.
Die fiets-spinning as gewilde sport het oorspronklik in Soweto ontstaan en vinnig na ander townships soos Tembisa en Katlehong versprei.
Naledi en sy vriende het op YouTube-video’s van die fietsvertonings en -kompetisies in Soweto raakgesien. Dit het hulle baie opgewonde gemaak.

Veral in Soweto is fiets-spinning groot. Foto verskaf
Hulle volg dieselfde konsep waar fietse aangepas moet word. Vir hulle is dit ’n bekostigbare alternatief en ’n uitdaging vir oorspronklikheid en vernuf. Die fietse hou hulle baie besig, vertel Naledi.
Sy fiets is ’n voorbeeld van ’n fyn-ontwerpte ryding wat deur die ryer self aangepas word. Kenmerkend van dié fietse is die verlengde rame.
Ongelukkig geen sitplekke of remme nie. Van die fietsryers moet om hierdie rede oor enorme fisiese krag, vernuf, balans en blitsvinnige reaksies beskik.
Om die fiets maklik te laat gly en tol (spin), draai ryers plastiekbottels om hul agterbande. Sommige gebruik selfs metaalkettings om vonke op ’n warm teerpad te maak.

’n Voorbeeld van die spinning-fietse. Dikwels word twee fietsrame aanmekaar gesweis om “dubbel-fietse” of ekstra lang fietse te skep wat glo die stabiliteit en voorkoms van ’n motor naboots. Foto verskaf
In sommige townships soos in Soweto het hierdie sport ontwikkel tot waar georganiseerde toertjiespanne teen mekaar meeding. Die Soweto Street Fighters en die Sentech Croozers is twee van die groter en sterkste spanne.
Die spanne ding in woonbuurte en parke mee, vermaak die toeskouers en laat hulle na hul asems snak.
Naledi se werkgewer in Bethlehem, Anina Shields, praat met lof van hom. Sy ken sy familie al jare sedert sy ouma ’n knap naaldwerker in haar dekor-besigheid was.

Naledi werk as tuinwerker om sy ma en twee kinders te onderhou, terwyl hy boonop gr. 11 probeer slaag. Foto verskaf
Anina vertel Naledi studeer na-uurs aan gr.11. As tuinwerker help hy om sy ma en nog twee kinders in die gesin te onderhou.
“Hy is baie fluks, kan vir homself dink, is positief, leergierig en beteken vir my baie – ’n werker duisend.
“Ek kan net nie glo dat hy met soveel gemak herwaarts en derwaarts kan beweeg op daardie ongemaklike fiets nie.”
Naledi vertel dat hy in Qwaqwa skoolgegaan het, maar sy woonomstandighede was nie goed nie en hy het na Bethlehem teruggekeer. Hy hoop om nog sy matriek te maak.
Intussen bedink hy planne oor hoe en sy vriende hulle townshipsport in Bohlokong groter kan maak, soos in Soweto.
“Ek wil graag hê baie van my vriende en die jong mense in Bohlokong wat werkloos en verveeld is, ook deel van ons fiets-spinning sal word.”
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
