Central SA
Vaal-baba wag op hartoperasie, maar moet eers gewig aansit─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:50 Wed, 11 Nov 2026
’n Pasgebore dogtertjie moet eers genoeg gewig aansit voordat sy ’n lewensbelangrike opehartoperasie kan ondergaan, terwyl haar ouers hoop dat sy daarna ’n gesonde en vol lewe sal kan lei.
Azaria Meyer is Sondag (9/11) om 09:09 gebore, maar die vreugde oor haar koms was met groot onsekerheid en bekommernis vermeng. Jeanré (26) en Pieter Meyer (44) van Vereeniging het reeds tydens die swangerskap die nuus ontvang dat hul dogtertjie met truncus arteriosus, ’n seldsame hartafwyking, gediagnoseer is.
Die toestand beteken dat daar slegs een groot bloedvat uit die hart kom, pleks van die twee afsonderlike bloedvate wat bloed na die longe en die res van die liggaam vervoer. Verdere ondersoeke het ook aan die lig gebring dat Azaria Meyer ’n gaatjie tussen die twee onderste hartkamers en slegs een hartklep het.
Hoewel die opgewondenheid oor die swangerskap en die koms van hul dogtertjie groot was, het die onsekerheid oor haar gesondheid en wat die pad vorentoe sou inhou, deurgaans soos ’n donker wolk oor die gesin gehang.
Jeanré kon haar dogtertjie net ’n paar sekondes ná die geboorte vashou voordat sy na die neonatale intensiewesorgeenheid geneem is. Hoewel haar asemhaling aanvanklik effens onstabiel was, kon die mediese span dit vinnig hanteer.

Azaria moet nog gewig optel voordat sy geopereer kan word. Foto verskaf
Azaria is egter nog te klein om die beplande opehartoperasie te ondergaan. Sy weeg tans 2,36 kg en moet minstens 2,5 kg weeg voordat dokters haar kan opereer. Haar ouers fokus dus nou daarop om haar gewig op te kry sodat sy so gou moontlik die nodige operasie kan ondergaan.
Sy is tans in die neonatale intensiewesorgeenheid waar sy fyn dopgehou word en hoewel sy self asemhaal, kry sy steeds suurstofondersteuning deur ’n neusbuisie sou sy ophou asemhaal.
“Azaria sal lewenslank opvolgafsprake nodig hê en kan moontlik verdere operasies benodig namate sy ouer word. Dit sal afhang van hoe haar hartklep saam met haar hart en liggaam groei. Die kanse op ’n gesonde, vol lewe is groot,” sê Jeanré.
Die uitdagings strek egter verder as Azaria se mediese behandeling. Ná haar ontslag sal Jeanré verblyf naby die hospitaal moet kry, aangesien Azaria weens die risiko van infeksie nie huis toe kan gaan voor haar operasie nie.
Sonder familie of vriende in die omgewing sal sy waarskynlik in ’n gastehuis moet tuisgaan, terwyl enige mediese koste wat nie deur hul mediese fonds gedek word nie, ook op die gesin se skouers rus.
Die organisasie UBEE4ME was gedurende die swangerskap ’n belangrike steunpilaar. “Nicoleen Harmse se insette en hulp het ’n ongelooflike verskil gemaak. Die gemeenskap se donasies, gebede en boodskappe het alles beslis bygedra tot ’n rustige geboorte.” Die organisasie spits hom toe op kinders se gesondheidsbehoeftes.

Dit blyk dat Azaria 'n normale lewe sal hê. Foto verskaf
Die betekenis van Azaria se naam, “gehelp deur God, sterk gemaak deur Sy genade”, het sedert haar diagnose en geboorte ’n veel dieper betekenis gekry. “Ons besef net met elke sekonde wat verbygaan dat sy tog in God se hande lê en Hy hou haar sterk!”
Jeanré sê sy is tans rustiger as wat sy aanvanklik verwag het, hoewel die pad nie altyd maklik was nie. “Dit was aan die begin vir my baie moeilik om positief te probeer wees, maar hoe verder ons gekom het en hoe meer ek aan my geloof begin vashou het, hoe meer het ek lig aan die einde van die tonnel gesien.”
Sy sê mense sien dalk net ’n kalm ma van buite, maar daar is baie bekommernis en onsekerheid wat agter dié glimlag skuil. “My baba is my grootste prioriteit, en alles wat ek doen, is daarop gerig om haar rustig, veilig en geliefd te laat voel.”

Pieter en sy babadogtertjie, Azaria. Foto verskaf
Sy hoop mense verstaan dat hul gesin nie bloot hul pasgebore baba huis toe kon neem en met die normale lewe aangaan nie. Hul pad vorentoe lyk anders en daar lê steeds baie onbekende uitdagings voor.
Haar boodskap aan ander ouers wat soortgelyke uitdagings beleef, is om aan hul geloof vas te hou, te bid en deeglik navorsing te doen.
“Bid, gaan op jou knieë en bid, en God sal elke deur op Sy tyd oopmaak. Vertrou op Hom en Hy sal voorsien. Wees voorbereid vir enige scenario.
“Ons weet nie presies wat môre gaan bring nie, maar ons het besluit om dit dag vir dag te vat, met geloof, gebed en baie liefde.”
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 4871427.


