Central SA
Bloemfontein-pa se grootste wens is om sy seun te sien grootword─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:56 Wed, 11 Nov 2026
Ná jare van ernstige gesondheidsprobleme, verskeie operasies en die verlies van sy been, is ’n Bloemfonteinse pa se grootste stryd nou om veilig deur die nag asem te haal.
Jonathan Fouché se gesondheidstryd het einde 2020 begin toe hy ’n wond aan sy voet ontwikkel het. Wat aanvanklik vir jig of ’n spinnekopbyt aangesien is, is eindelik as ’n diabetiese voetwond bevestig, waarna sy gesondheid geleidelik verswak het.
Hoewel die wond ná verskeie dokters- en hospitaalbesoeke genees het, het hy steeds erge pyn ervaar en het die bene in sy voet begin verbrokkel. Nadat hy sy toon gestamp het en gangreen ontwikkel het, moes sy voet op 21 Januarie 2023 tot by die brug geamputeer word.
In 2024 het Jonathan se gesondheid ’n verdere ernstige terugslag beleef toe hy met ernstige longontsteking in die hospitaal opgeneem is. Een van sy longe het platgeval, ’n gewas is in sy long aangetref en hy het volgens sy vrou 13 operasies ondergaan en drie maande in hoësorg deurgebring.

Jonathan se voet is intussen afgesit. Foto verskaf
Jonathan het later aan haar vertel hoe hy aanhou bid het en hoe sy seun, Daniel (2), hom die krag gegee het om aan te hou veg. Te midde van dié onsekerheid het die paartjie besluit om nie langer te wag om te trou nie.
Hy was so siek in die hospitaal dat sy vrou, Marina, hom skaars herken het toe sy hom besoek het en die paartjie het besluit om tussen die hospitaalmure te trou. Hy kon nie praat nie en het só siek gelyk dat sy geglo het hy het nie meer baie tyd oor nie.
Nadat Marina op kort kennisgewing ’n predikant kon reël, is hulle op 1 Augustus 2024 in die hospitaal getroud, voordat Jonathan na die Universitas-hospitaal oorgeplaas is, waar hy verdere behandeling ontvang het.

Jonathan in die hospitaal. Foto verskaf
In 2025 het Jonathan sy regterbeen verloor, maar ondanks die fisieke en emosionele uitdagings het hy geweier om moed op te gee. Hy het selfs tydens sy herstel ná albei amputasies aangehou werk en was, nadat hy sy prostese ontvang het, binne enkele dae weer agter die stuurwiel.
Marina sê haar man se aanpasbaarheid en deursettingsvermoë bly vir haar merkwaardig, hoewel sy ook die emosionele tol van sy veranderde omstandighede raaksien.
Die gesin se jongste bekommernis het ontstaan nadat Marina opgemerk het dat Jonathan verskeie kere gedurende die nag ophou asemhaal. Toetse by die hospitaal het bevestig dat hy meer as 20 keer per nag ophou asemhaal, waarna ’n CPAP (Continuous Positive Airway Pressure)-masjien aanbeveel is om sy asemhaling tydens slaap te ondersteun.

Die egpaar het in die hospitaal getrou. Foto verskaf.
Die mediese fonds dek egter nie die koste van die nodige toerusting nie. Die gesin kon intussen ’n tweedehandse masjien bekom, maar benodig steeds geld vir die nodige pype, ’n volgesigmasker en die diens van die masjien voordat hy dit kan gebruik.
Die asemhalingsprobleem is nie die enigste mediese uitgawe waarmee hulle worstel nie. Jonathan se diabetes vereis voortdurende medikasie, terwyl ’n nuwe wond aan sy oorblywende been ook behandeling en versorging verg.
Die gesin het onlangs meer as R10 000 aan medikasie alleen bestee. Een spesifieke middel kos meer as R7 500. “Hy benodig ook gereelde opvolgbesoeke en wondversorging, maar die koste maak dit moeilik om al die nodige afsprake na te kom,” sê Marina.

Jonathan en Marina saam met hul kinders. Foto verskaf
Hoewel hulle ’n mediese fonds het, word heelwat spesialis- en behandelingskoste nie gedek nie. Die gesin moes ook reeds noodgedwonge sekere behandelings en mediese hulpmiddels laat vaar omdat dit bo hul geldelike vuurmaakplek is.
Marina, wat as fotograaf werk, sê hulle probeer maar net kop bo water hou en is dankbaar vir die ondersteuning van familie, vriende en haar drie kinders uit ’n vorige huwelik.
“Elke keer wanneer dit voel asof ons nie meer gaan uitkom nie, kry ek gelukkig ’n fotografiebespreking wat help om ’n gat toe te maak.”
Die afgelope vyf jaar het hulle as gesin emosioneel sterk gemaak, maar dit bly moeilik om te sien hoe Jonathan se gesondheid sy onafhanklikheid beïnvloed. Hy was altyd iemand wat vinnig dinge wou doen, maar moet nou eers sy prostese aansit of ’n loopraam gebruik voordat hy kan beweeg.
Marina sê haar grootste wens is dat Jonathan die geleentheid kry om sy seun te sien grootword. Sy sê sy dokter het gewaarsku dat sy huidige gesondheidstoestand beteken dat hy moontlik nie eens nog tien jaar sal leef nie. “Hy wil lewe vir sy kind. Hy wil sien hoe hy grootword,” sê Marina.
Die gesin het ’n fondsinsameling begin om te help met die oorblywende koste van Jonathan se CPAP-toerusting en ander mediese uitgawes te dek.
Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 4871427.

