On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Vyf moet voorkom op Kuruman oor lewende ietermagog

───   13:48 Wed, 11 Nov 2026

Vyf moet voorkom op Kuruman oor lewende ietermagog | News Article
Die lewende ietermagog waarop die polisie beslag gelê het. Foto verskaf

Vyf mense sal na verwagting binnekort in die Kuruman-landdroshof voorkom nadat die polisie ’n lewende, bedreigde ietermagog tydens ’n voertuig-deursoeking in die middedorp ontdek en al vyf insittendes in hegtenis geneem het.

Die vier mans (24 tot 43) en ’n vrou (35) is Dinsdag (10/11) omstreeks 13:30 aangekeer. Hulle sal aangekla word van die onwettige besit van ’n bedreigde spesie ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Biodiversiteit.

Die Noord-Kaapse polisie sê lede van die Kurumanse blitspatrollie was besig met intensiewe patrollies as deel van Operasie Shanela II toe hulle ’n vaal Renault naby die verkeersirkel by Kuruman Mall gewaar. Die motor het stilgehou toe die insittendes die polisievoertuig opmerk.

Dit het die beamptes agterdogtig gemaak. Hulle het iemand in die motor herken en dit aanvanklik laat verder ry, maar die voertuig daarna afgetrek vir ’n roetine-ondersoek. Tydens die deursoeking het hulle die volwasse ietermagog in ’n rooi drasak ontdek.

Die omgewing van die Kuruman Mall, waar die voertuig met die ietermagog gekry is. Foto: Kuruman Mall

Die polisie het onmiddellik al vyf insittendes aangekeer. Die vonds vestig opnuut die aandag op natuurlewe-verwante misdaad in die John Taolo Gaetsewe-distrik, waar die polisie reeds voorvalle aangeteken het wat met die onwettige besit en handel in beskermde diere verband hou.

“Die onwettige besit, vangs en stropery van beskermde en bedreigde wild is strafbare oortredings,” sê ao. Molefi Shemane, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder.

Die polisie vra daarom dat mense nie aan stropery deelneem nie en enige inligting oor die onwettige handel in bedreigde diere aanmeld. Inwoners word ook aangemoedig om verdagte bedrywighede onder die polisie se aandag te bring.

Brig. Kenneth Baloyi, waarnemende John Taolo Gaetsewe-distrikskommissaris, loof die patrollielede vir hul oplettendheid en vinnige optrede. Hul reaksie het nie net tot die inhegtenisnemings gelei nie, maar ook tot die terugvind van ’n lewende dier wat ingevolge biodiversiteitswetgewing beskerm word.

Die polisie bly verbind tot die beskerming van bedreigde wild en die bekamping van omgewingsmisdaad. 

“Lede van die publiek word aangemoedig om met die polisie saam te werk deur inligting te deel,” sê Shemane. Die doel is om misdade teen wild te voorkom en Suid-Afrika se natuurerfenis vir toekomstige geslagte te beskerm.

OFM Nuus cvs

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.