On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Bejaarde Vrystater Saterdag begrawe ná lewenslange tronkstraf

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:26 Wed, 11 Nov 2026

Bejaarde Vrystater Saterdag begrawe ná lewenslange tronkstraf | News Article
Barend Hendrik van der Berg. Foto verskaf

’n Bejaarde Vrystater, wat skuldig bevind is aan die verkragting van ’n minderjarige, word Saterdag (14/11) begrawe.

Barend Hendrik van der Berg (84) van Petrusburg is Saterdag (7/11) oorlede nadat hy byna vier maande in aanhouding was. Hy is op 19 Augustus tot lewenslange gevangenisstraf vir verkragting gevonnis.

Hy is ook 15 jaar gevangenisstraf vir die seksuele uitbuiting van ’n kind opgelê en vier jaar omdat hy kinders gedwing het om toe te kyk, het brig. Thandi Mbambo, provinsiale polisiewoordvoerder, vroeër gesê.

Van der Berg het deurgaans volgehou hy is onskuldig. Volgens inligting het die vonnisoplegging ’n groot emosionele uitwerking op hom gehad en het hy glo opgehou eet. Die omstandighede rondom sy dood is egter nog nie bekend nie.

Hy het ook tydens sy aanhouding in die tronk se stort geval en daarna ’n heupvervanging ondergaan. Die verdediging was blykbaar van plan om teen die vonnis te appelleer. Dit is ook tydens die verrigtinge op rekord geplaas dat die landdros en die beskuldigde bure in Petrusburg was.

Van der Berg is op 20 Julie skuldig bevind nadat die hof bevind het die staat se getuienis is geloofwaardig. Hy is sedert sy skuldigbevinding in aanhouding en word deur die departement van korrektiewe dienste in die hospitaal bewaak.

Die saak het in Julie 2024 aan die lig gekom nadat ’n onderwyser in Petrusburg bewus geword het van bewerings dat ’n agtjarige meisie seksueel deur Van der Berg misbruik word. Die kind het aan die onderwyser vertel wat gebeur het, waarna die polisie ontbied is.

‘Die meisie het gereeld ná skool Van der Berg se woning besoek’

Die meisie het gereeld ná skool Van der Berg se woning besoek, waar hy vir haar en ander kinders brood, koekies en koeldrank gegee en hulle toegelaat het om in sy swembad te swem. Die verkragting het daarna plaasgevind.

Twee ander kinders, toe sewe en nege jaar oud, het die seksuele daad aanskou. Die landdros het bevind al drie kinders was geloofwaardige getuies en Van der Berg se bewering verwerp dat hulle deur ander mense beïnvloed of afgerig is om valse aantygings te maak.

Die hof het hom skuldig bevind aan verkragting, seksuele uitbuiting en dat hy veroorsaak het dat ’n kind ’n seksuele daad aanskou.

‘Sy ouderdom het hom nie daarvan weerhou om die misdrywe te pleeg nie’

“Die staat het tydens vonnisoplegging gewys op die erns van die misdrywe, die gevaar wat Van der Berg vir kinders inhou, asook die trauma wat die slagoffer in die impakverklaring beskryf het,” sê Mbambo.

Francois Retief, sy regsverteenwoordiger, het vroeër gesê ’n korrektiewetoesigverslag is aangevra omdat Van der Berg se ouderdom moontlik ’n rol in die eindelike vonnis kon speel.

Die staat het egter gesê sy ouderdom het hom nie daarvan weerhou om die misdrywe te pleeg nie en dat die voorgeskrewe minimum vonnisse opgelê behoort te word.

Benewens die gevangenisstraf is Van der Berg se naam op die register vir seksuele oortreders geplaas en is hy onbevoeg verklaar om met kinders te werk.

Retief het kort ná die vonnisoplegging aan OFM Nuus gesê hy is geskok oor die vonnis, veral in die lig van sy ouderdom. Van der Berg word 09:00 op Deelplaas ter ruste gelê.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.