On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Upington-man eers agter tralies oor hy glo jaggeweer onwettig verkoop

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:02 Thu, 12 Nov 2026

Upington-man eers agter tralies oor hy glo jaggeweer onwettig verkoop | News Article
Die vuurwapen waaroor die saak gaan. Foto verskaf

’n Noord-Kapenaar wat daarvan beskuldig word dat hy ’n ongelisensieerde jaggeweer en bykomstighede verkoop het, sal ’n week agter tralies bly voordat hy weer in die hof verskyn.

Jean-Pierre Solomons (41) kom na verwagting weer Woensdag (18/11) voor in die Upingtonse landdroshof vir ’n formele borgtogaansoek. Hy staan tereg op aanklagte wat verband hou met die besit en verkoop van ongelisensieerde vuurwapens en bly in aanhouding, sê lt.kol. Tebogo Thebe, provinsiale polisiewoordvoerder.

Hy is Woensdag (11/11), voor sy eerste hofverskyning, tydens ’n gesamentlike operasie deur die Valke se eenheid vir ernstige georganiseerde misdaadondersoeke en die polisie se eenheid vir openbare orde in hegtenis geneem.

Die polisie het inligting ontvang oor ’n man wat na bewering ’n koper vir ’n ongelisensieerde jaggeweer gesoek het, sê Thebe. “Die geweer is saam met ’n teleskoop en knaldemper aangebied.”

‘Artikel 3 van die wet bepaal dat niemand ’n vuurwapen mag besit sonder ’n geldige lisensie’

Die ondersoekspan het die inligting opgevolg en ’n ondersoekmetode gebruik om die verkoper op te spoor en in hegtenis te neem. Die betrokke items, wat na raming sowat R68 500 werd is, is na bewering tydens die transaksie verkoop.

Solomons word ingevolge die Wet op die Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000) aangekla, onder meer vir die besit en verkoop van ’n ongelisensieerde vuurwapen.

Die wet wil die onwettige verspreiding van vuurwapens voorkom en strenger beheer oor die besit, berging, oordrag en gebruik daarvan verseker. Artikel 3 van die wet bepaal dat niemand ’n vuurwapen mag besit sonder ’n geldige lisensie, permit of magtiging vir daardie spesifieke wapen nie.

Die wet reguleer ook die handel in vuurwapens. Ingevolge Artikel 31 mag niemand sonder ’n handelaarslisensie met vuurwapens handel dryf nie, hoewel die wet onder sekere voorwaardes voorsiening maak vir die private verkoop of skenking van ’n vuurwapen. 

Die wet se doel sluit verder in om vuurwapens wat onwettig besit word uit die samelewing te verwyder en misdaad waarby vuurwapens gebruik word, te help voorkom.

OFM Nuus cvs

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.