Central SA
Sakevrou se aanrandingsaak weer uitgestel oor regshulp-versoek─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:05 Thu, 12 Nov 2026
Die aanrandingsaak teen ’n Bloemfonteinse sakevrou is weer uitgestel hangende die uitslag van haar aansoek om regshulp.
Franzelle Venter, eienaar van Pienk Framboos, kom na verwagting weer op 2 Desember in die Bloemfonteinse landdroshof voor. Haar prokureur, Teneal van Deventer van Horn & Van Rensburg Prokureurs, het op 5 November weens wanbetaling as haar regsverteenwoordiger onttrek.
Venter het Woensdag (11/11) voorgekom nadat sy glo ’n voormalige werknemer, Dipao Moreng, aangerand het. Venter is aanvanklik van poging tot moord aangekla, maar die aanklag is verander na aanranding.
Die voorval het glo op 24 Oktober verlede jaar by haar woning in Fichardtpark plaasgevind toe Moreng glo tydens ’n rusie teen ’n sleepwa gedruk en gewurg is nadat sy die perseel wou verlaat.

Franzelle Venter (links) en Dipao Moreng. Foto’s: Charne van der Merwe
Die klaer beweer sy het krapmerke aan die linkerkant van haar nek en op haar bors opgedoen. Sy is ook glo sedert die voorval werkloos
Die aanklag is egter vroeër op Moreng se versoek teruggetrek. Die hof het op 9 Julie gelas dat Venter ’n Nicro-evaluering ondergaan. Die staat het destyds die evaluering versoek weens die erns van die bewerings teen haar.
Venter het op 14 Julie in die hof verskyn vir ’n formele Nicro-assessering, maar ná oorlegpleging met die staat het Moreng besluit om die saak voort te sit.

Sy het toe buite die hof gesê Venter het nie die ooreenkoms nagekom om haar te betaal nie. Daar was glo ook onderhandelinge tussen die partye oor ’n moontlike skikking buite die hof.
Sy hou vol sy het nie besluit om die saak te heropen omdat Venter haar geld skuld nie, maar omdat sy voel die feit dat Venter haar nie betaal het nie, wys dat sy steeds nie verantwoordelikheid vir haar optrede aanvaar of spyt daaroor is nie.
’n Poging tot ’n skikking buite die hof op 17 September tussen Venter en die klaer het nie geslaag nie.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.
