Central SA
Upington-ma se toestand steeds ernstig ondanks goeie tekens─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:00 Thu, 12 Nov 2026
Die Noord-Kaapse vrou wat meer as ’n maand gelede in ’n ongeluk betrokke was waarin haar man oorlede is, se toestand bly ernstig ondanks enkele positiewe tekens op haar jongste breinskandering.
’n Skandering Maandag (9/11) van Sunica Muller (31) se brein wys die swelling wat voorheen deur ’n opening in haar skedel gebult het, het gesak. Daar is egter ook ’n nuwe, groot opbou van vloeistof aan die regterkant van haar brein, terwyl beduidende swelling, veral aan die linkerkant, steeds teenwoordig is, sê Jenni van der Merwe, haar suster.
Teen Dinsdag (10/11) het die vloeistofkamers in haar brein vergroot ondanks ’n dreineringsprosedure. Daar is egter geen tekens van infeksie in die nuwe vloeistofversameling nie.
Haar brein bly sentraal en in lyn, wat as ’n positiewe teken beskou word. Muller se mediese toestand het sedert die ongeluk op 6 Oktober verskeie komplikasies ingesluit, waaronder breinswelling, ’n bloedklont, vloeistofopbou in die brein en ’n bevestigde infeksie van die breinweefsel.

Léhan en Sunica Muller. Foto verskaf
Terugvoering van spesialiste op 3 November het die bloedklont bevestig as ’n organiserende hematoom. “Dit beteken dat die bloeding besig is om te stabiliseer en natuurlik deur die liggaam afgebreek en geabsorbeer word,” sê Van der Merwe.
Die skandering het ook geen nuwe hipodense areas getoon nie, wat beteken geen verdere, nuwe skade aan die brein is sigbaar nie. Die sitotoksiese edeem, oftewel swelling van breinselle, was ook minder prominent.
Hoewel verhoogde druk in die brein steeds waargeneem is, was dit volgens die spesialiste goed beheerbaar. Haar intrakraniale druk (binne-in die skedel) was teen dié tyd normaal.

Sunica en Léhan Muller en hul kinders, Léha, AB en Léhan jr. Foto verskaf
Vroeër is vloeistofopbou in haar brein, bekend as hidrokefalus, weens ’n blokkering in die membraan wat breinvloeistof help dreineer, gediagnoseer. ’n Eksterne ventrikulêre dreineringsprosedure is uitgevoer om die vloeistof te dreineer en die druk te verlig. Die prosedure het goed verloop.
Infeksie van die breinweefsel, bekend as serebritis, is intussen bevestig. Sy het reeds behandeling hiervoor ontvang, wat volgens die mediese terugvoering suksesvol was.
Muller het egter verskeie komplikasies gehad en moes heelwat mediese prosedures ondergaan. Op 27 Oktober het sy ’n epileptiese aanval gehad, waarna ’n CT-skandering nuwe vloeistof- of swellingverwante veranderinge in haar brein getoon het. ’n Verdere dreineringsprosedure is beplan, en spesialiste het ook ’n moontlike swaminfeksie ondersoek.

Léhan en Sunica Muller. Foto verskaf
Ná die breindreineringsprosedure het dit beter gegaan. “Sy het haar oë oopgemaak en geknip.”Elke klein beweging bring hoop vir ons familie,” sê Van de Merwe.
Sy kon ook weer op haar eie asemhaal nadat sy van die ventilator verwyder is. Haar CRP-vlak, ’n aanduiding van inflammasie in die liggaam, het van 148,5 tott 105 gedaal. Sy het steeds antibiotika en antifungale behandeling ontvang.
Muller is Woensdag 7 Oktober, kort ná die ongeluk waarin haar man, Léhan (32), dood is, per Aerocare-vliegtuig na Kimberley geneem weens die erns van haar beserings. Sy is kort daarna vir ’n noodoperasie geneem om bloeding en drukking op haar brein te verlig.

Die Mullers se voertuig het na bewering met ’n aankomende vragmotor gebots, waarna beheer oor die voertuig verloor is. Die egpaar, wat sowat twee maande tevore van George na Upington verhuis het, was agt jaar getroud en 13 jaar saam.
Hulle het drie jong kinders, AB (7), Léha (4) en Léhan jr. (3), wat nie tydens die ongeluk in die voertuig was nie.
Muller se familie bly hoopvol en vra steeds gebede en ondersteuning terwyl sy verdere mediese behandeling ontvang. “Ons bly hoopvol en gaan voort om te bid vir haar genesing en herstel, een dag op ’n slag,” sê Van der Merwe.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs
Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.
