Central SA
Vrou pleit ná Bloem-man se moord: ‘Moenie dat hy net nog ’n dossiernommer word nie’─── CHARNÉ VAN DER MERWE 15:06 Thu, 12 Nov 2026
Ses maande ná sy lewe op gewelddadige wyse beëindig is, wil sy familie hê dat ’n man onthou moet word vir wie hy was en nie net vir die manier waarop hy gesterf het nie.
Vir Berche Pienaar is haar broer, Esias Engelbertus (Estus) Steyn (44), veel meer as nog ’n slagoffer in ’n onopgeloste moordsaak. Hy was iemand met ’n besonder groot hart, ’n passie vir die lewe en ’n bereidwilligheid om ander te help, selfs wanneer dit beteken het dat hy homself tweede moes stel.
Estus het sy eie IT-onderneming, Machine Mode/Upgrades4U, bedryf en was volgens sy suster iemand wat baie gelag het en graag mense om hom gelukkig laat voel het. Hy het seker gemaak dat ander welkom en ingesluit voel en was altyd bereid om ’n helpende hand uit te steek.
Sy liefde vir ander het ook nie net by mense geëindig nie. Hy was baie lief vir diere en het ’n sagte plek gehad vir dié wat sy hulp nodig gehad het.
‘Die familie steeds op antwoorde oor sy moord’
Vir Berche lê van haar kosbaarste herinneringe juis in die klein, alledaagse dinge wat haar broer so besonders gemaak het. Een daarvan is die manier waarop hy haar altyd “Poepies” genoem het – ’n bynaam wat nou ’n spesiale betekenis dra en haar aan die band tussen hulle herinner.
Maar terwyl sy dié herinneringe probeer vashou, moet sy ook die werklikheid verwerk dat haar broer se lewe op 8 Mei in Bloemfontein beëindig is. Sedertdien wag die familie steeds op antwoorde oor sy moord.
“Ons wil net hê die ondersoek moet vordering toon en dat die saak uiteindelik in die hof kan dien.” Estus is glo deur iemand na aan hom met ’n mes in die hart gesteek. Die twee was na bewering die enigste mense in die huis toe die voorval plaasgevind het.

Esias Engelbertus (Estus) Steyn was 'n liefdevolle persoon. Foto verskaf
Die oomblik waarop Berche besef het haar broer is dood, sal haar altyd bybly. Die persoon het daardie aand aan haar slaapkamerdeur kom klop en geskree: “Jou broer is dood, ek het hom doodgemaak.”
“Sy was vol bloed. Ons huise is naby mekaar, en ek het aanvanklik gedink sy oordryf dalk. Ek het vir haar gesê om kalm te word.” Enkele minute later het Berche egter haar broer se lewelose liggaam in die gang van sy huis aangetref.
“Ek het aanhou sê hy lewe nog, maar dit was ongelukkig nie die geval nie.” Die verlies was veral moeilik vir die familie, aangesien hul ma sowat twee jaar gelede ook oorlede is. Haar pa (83) moet nou boonop die verlies van sy seun verwerk.
'Sy moes sedertdien self herhaaldelik by die polisie aanklop om uit te vind wat met die ondersoek gebeur'
Die betrokke persoon is die aand van die voorval in hegtenis geneem, maar twee dae later vrygelaat, vertel Berche. Die saak, wat op 8 Mei by die Parkweg-polisiekantoor geopen is, het nie op die hofrol verskyn nie omdat verklarings glo uit die dossier weggeraak het, beweer sy.
Sy moes sedertdien self herhaaldelik by die polisie aanklop om uit te vind wat met die ondersoek gebeur. “Ek het amper elke dag gebel, die polisie gaan sien en met talle mense gepraat.” Sy is van bakboord na stuurboord gestuur, totdat sy sowat twee maande gelede by ’n offisier uitgekom het.
“Sy het die saak begin ernstig opneem.” Die ondersoekbeampte het begin help, maar Berche vertel die proses het steeds stadig verloop omdat daar op inligting en bewysstukke van ander departemente gewag word.

Esias Engelbertus (Estus) Steyn is reeds ses maande oorlede. Foto verskaf
Sy volg tans minstens twee keer per week by die polisie op. Die feit dat die persoon wat volgens haar vir haar broer se dood verantwoordelik is, steeds met haar lewe voortgaan terwyl die familie op antwoorde wag, maak die situasie nog moeiliker.
Berche sê die onsekerheid het ook ’n groot invloed op die familie se rouproses. Die aanhoudende wag en gebrek aan antwoorde maak dit moeilik om behoorlik met die verlies vrede te maak.
“Ek weet ek kan nie my broer terugkry nie. Ek wil net hê daar moet verantwoordbaarheid wees en dat die saak die geleentheid moet kry om deur die regstelsel hanteer te word.
'Moenie dat iemand wat jy voor lief was net nog ’n dossiernommer word nie.'
“Een mens kan nie net ’n ander se lewe neem en wegstap sonder enige gevolge nie. Elke lewe maak tog saak. Geregtigheid beteken dat ons kan begin vrede maak met sy dood.”
Sy hoop ook dat ander families wat soortgelyke ervarings beleef, nie moed sal verloor wanneer hulle met die polisie se ondersoekproses sukkel nie.
Haar boodskap aan hulle is om aan te hou vrae vra en op te volg, selfs wanneer dit voel asof niemand luister nie. “Moenie ophou opvolg nie. Moenie moed opgee nie. Iewers gaan jy by iemand uitkom wat omgee. Moenie dat iemand wat jy voor lief was net nog ’n dossiernommer word nie.”
Vir Berche is dit belangrik dat mense onthou dat elke moordslagoffer ’n mens met ’n lewe, familie en drome was. Haar broer was nie net die slagoffer van ’n misdaad nie, maar iemand wat nog soveel gehad het om te beleef en te gee.
“My broer was ’n passievolle mens, jonk en nog vol drome. In ’n oomblik het iemand anders dit net so van hom en van ons weggeneem.”
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

