Central SA
Upington-skool se nuwe sporthoof wil toesien elke leerder maak saak─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:15 Fri, 13 Nov 2026
’n Mens hoef nie die beste speler op die veld te wees om ’n plek in sport te verdien nie.
Dit is die boodskap wat Hans Grobler (39), ’n voormalige beroepsrugbyspeler van die Noord-Kaap, wil uitdra. Elke leerder, ongeag sy of haar prestasie, moet die geleentheid kry om deel te neem, te groei en hul liefde vir sport te ontdek.
Grobler, oorspronklik van Bloemfontein, het onlangs ná 16 jaar in Frankryk na Suid-Afrika teruggekeer om as die nuwe sporthoof by die Hoërskool Duineveld op Upington aan te sluit. Met ongeveer 20 jaar se rugbyervaring, onder meer op beroepsvlak, bring hy nie net ’n sportagtergrond na die skool nie, maar ook sy toekomsvisie wat veel verder as net rugby strek.
Sy liefde vir die spel het reeds op ’n jong ouderdom begin. Hy kom uit ’n rugbyfamilie waarin sy pa vir die junior Springbokke gespeel het en sy oom Wes-Transvaal verteenwoordig het. Rugby was ’n groot deel van sy grootwordjare, hoewel skaak aanvanklik sy grootste fokus op laerskool was.

Hans wil egter nie net verandering ter wille van verandering aanbring nie. Foto verskaf
Dit was eers toe hy Paarl Gimnasium toe is, aanvanklik met die doel om skaak te speel, dat rugby ál meer ’n sentrale rol in sy lewe begin speel het. Hy het reeds in gr. 10 vir die eerste span uitgedraf.
Ná skool het hy landbou aan die Universiteit van die Vrystaat studeer en aanvanklik sy aandag op sy akademiese loopbaan gevestig. Hy het egter steeds koshuisrugby gespeel en ná die voltooiing van sy graad besluit om professioneel rugby te probeer speel.
Dit het hom eindelik na die Shimlas en later die Vrystaat geneem, waar hy die geleentheid gekry het om die provinsie te verteenwoordig. Hy het ook vir die SWD-Arende gespeel voordat sy rugbyloopbaan hom na Frankryk geneem het, waar hy vir Tarbes in die Pro D2-kompetisie uitgedraf het.
Vriendskappe is hoogtepunte
As haker het hy veral die vaste skrums en lynstane geniet, maar soos enige lang sportloopbaan het sy pad ook uitdagings ingehou. Beserings en die moeilike proses om telkens na die veld terug te keer, was volgens hom van die grootste struikelblokke wat hy moes oorkom. Tog is dit nie noodwendig die wedstryde of prestasies wat hom die meeste bybly nie.
Die vriendskappe wat hy met die jare opgebou het en die lewenservaring wat rugby hom gebied het, staan vir hom uit as van die grootste hoogtepunte.
Die besluit om na Suid-Afrika terug te keer, was iets wat reeds geruime tyd in sy gedagtes was. “Toe ek die vakante sporthoofpos by die Hoërskool Duineveld op sosiale media raaksien, het ek dadelik belanggestel,” vertel Grobler.
In sy nuwe rol sal hy verantwoordelik wees vir die koördinering, bestuur en ontwikkeling van sport, insluitend sportbeplanning, wedstryde, toernooie en samewerking met afrigters.
'Hy wil hê dat rugby, netbal, atletiek, hokkie en ander sportsoorte die nodige ondersteuning en ontwikkelingsgeleenthede moet ontvang.'
Sy eerste indrukke van die skool is positief, en hy sien reeds geleenthede om op die bestaande sportkultuur voort te bou.
Hy wil egter nie net verandering ter wille van verandering aanbring nie. “Ek moet eers kyk wat reeds goed werk. Dit is vir my belangrik om eers te luister, te verstaan wat reeds in plek is en dan saam te besluit waar ons kan verbeter. Ek glo ons moet die regte kultuur skep, want die regte kultuur sal die regte resultate oplewer.”
Hoewel rugby ’n groot deel van sy persoonlike agtergrond uitmaak, sal sy aandag op alle sportsoorte by die skool gevestig wees. Hy wil hê dat rugby, netbal, atletiek, hokkie en ander sportsoorte die nodige ondersteuning en ontwikkelingsgeleenthede moet ontvang. Dit geld ook vir leerders in die B- en C-span, en nie net dié wat die A-span haal nie.

Een van die aspekte wat Grobler besonder na aan die hart lê, is die toenemende druk op kinders om te presteer. “Daat word soms te veel klem op uitslae, spankeuses en trofeë geplaas, terwyl die eenvoudige liefde vir sport op die agtergrond skuif.
“Kinders moet steeds die ruimte kry om te speel, foute te maak en nuwe dinge te probeer, sonder dat elke prestasie of terugslag onder ’n vergrootglas geplaas word,” sê Grobler.
Ouers moet onthou dat dit hul kind se sportervaring is, nie hulle eie nie. “Ouers moet hul kinders aanmoedig, in hulle glo en hul pogings vier, eerder as om net op oorwinnings en prestasies te fokus.

Hans in aksie op die rugbyveld. Foto verskaf
“Kinders moet ook leer om verantwoordelikheid vir hul eie sport te aanvaar en hul eie doelwitte te ontwikkel. Vir ’n kind wat dalk nie die beste speler in die span is nie, maar steeds lief is vir sport, moenie hul liefde vir die sport verloor omdat hulle nie die beste speler is nie. Jou waarde as spanmaat en as mens word nie bepaal deur hoe goed jy presteer of hoeveel wedstryde jy wen nie.”
Sport moet vir kinders soveel meer as ’n moontlike loopbaan bied, glo hy. Dit bou dissipline, selfvertroue, spanwerk en deursettingsvermoë, terwyl dit leerders leer om sowel sukses as teleurstelling te hanteer.
Dit is juis hierdie waardes wat hy ook in die skool se sportkultuur wil vestig. Grobler se langtermyndoelwit is om ’n sterk en volhoubare sportkultuur te ontwikkel waarin deelname groei, spanne goed voorbereid is en jong talent die geleentheid kry om sy volle potensiaal te bereik.
“Dit is belangrik om talent vroeg raak te sien, maar kinders moet nie te gou in bepaalde kategorieë geplaas word nie. Nie alle kinders ontwikkel teen dieselfde tempo nie, en elke leerder moet die geleentheid kry om verskillende sportsoorte te probeer.”
Goeie sportontwikkeling begin vir Grobler by ’n omgewing waarin kinders veilig voel om foute te maak en daaruit te leer. “Afrigters en onderwysers speel hierin ’n belangrike rol deur respek, positiewe kommunikasie en aanmoediging te bevorder.
“Aan die leerders wat saam met my hierdie nuwe hoofstuk aanpak, glo in jouself, werk hard en moet nie bang wees om uitdagings aan te pak nie. Hoe jy opstaan ná ’n moeilike oomblik, is baie belangriker as hoeveel keer jy val.”
OFM Nuus/Charne van der Merwe sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

