Central SA
Welkom-buurt reeds langer as 30 dae sonder water─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:05 Fri, 13 Nov 2026
Die waarnemende munisipale bestuurder van ’n Vrystaatse munisipaliteit het tot Vrydag (13/11) om op ’n dringende skrywe te reageer nadat inwoners in Welkom reeds langer as ’n maand sonder ’n betroubare watertoevoer is.
AfriForum eis optrede van dr. Vuyo Adonis nadat inwoners van Residentia in Matjhabeng reeds langer as 30 dae sonder ’n betroubare watertoevoer is. Ondanks die voortslepende krisis is geen duidelikheid aan inwoners gegee oor wanneer die probleem opgelos sal word nie, sê Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.
Adonis het ook nog nie op AfriForum se korrespondensie oor die waterkrisis gereageer nie. “Die organisasie het Adonis Donderdag (12/11) in ’n nuwe brief versoek om binne 24 uur skriftelik te reageer en duidelikheid te gee oor die oorsaak van Residentia se waterkrisis, die stappe wat reeds gedoen is om die probleem aan te spreek en die tydraamwerk waarbinne watervoorsiening herstel sal word.
“Ons eis ook ’n volledige verslag oor die operasionele status van ses boorgate, insluitend bevestiging dat werkende pompe geïnstalleer is, hoeveel water daagliks gelewer word en watter instandhoudingswerk reeds gedoen is,” sê Ikking.
'Die munisipaliteit se stilswye los nie die probleem op nie'
AfriForum het op 2 November sy eerste dringende brief aan Adonis gerig waarin die organisasie geëis het dat die munisipaliteit onmiddellik ingryp, noodwatervoorsiening beskikbaar stel en binne 24 uur skriftelike terugvoer gee.
Adonis het tot dusver op geen van die organisasie se navrae oor die aangeleentheid gereageer nie. Intussen duur die waterkrisis voort en word inwoners gedwing om daagliks sonder ’n noodsaaklike basiese diens klaar te kom.
“Dit is absoluut onaanvaarbaar dat ’n woonbuurt reeds meer as 30 dae sonder water is en dat die munisipale bestuurder nie eens die moeite doen om inwoners se navrae te beantwoord nie. Adonis moet verduidelik waarom hy nie reageer nie en waarom inwoners steeds sonder water en antwoorde gelaat word. Die munisipaliteit se stilswye los nie die probleem op nie,” sê Ikking.

In sy jongste brief bevraagteken AfriForum die funksionaliteit van munisipale boorgate. Foto: iStock
“Inwoners voer aan dat watertenkwaens wel in die dorp beskikbaar gestel is waarvandaan water gehaal kan word. Daar is egter talle bejaardes in die woonbuurt wat nie tot by die tenkwaens kan kom nie of fisiek nie in staat is om swaar emmers water te dra nie.”
In sy jongste brief bevraagteken AfriForum die funksionaliteit van munisipale boorgate en eis antwoorde oor die status van ses munisipale boorgate wat volgens beskikbare projekinligting reeds in 2023 geboor en oorhandig is.
“Ons versoek inligting oor hierdie projekte met verwysing na die munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) vir 2025/2026,” sê Ikking.

Die munisipaliteit se gebrek aan kommunikasie laat ontstaan ernstige vrae oor dienslewering. Foto: iStock
Die boorgate is in Hennenman, Riebeeckstad, Mmamahabane, Phomolong en Thabong geleë en het volgens beskikbare inligting ’n gesamentlike aangemelde leweringsvermoë van 36 000 L/h, met ’n totale opgaarkapasiteit van 120 000 L.
“Indien al ses boorgate deurlopend teen hul aangemelde leweringsvermoë funksioneer, verteenwoordig dit ’n teoretiese produksievermoë van tot 864 000 liter per dag,” sê Ikking.
AfriForum wil egter vasstel of die boorgate werklik met werkende pompe toegerus is, of dit aan funksionele verspreidingsnetwerke gekoppel is en of die water wat gelewer word, die beoogde gemeenskappe bereik.
“Die munisipaliteit moet verduidelik wat van hierdie boorgate geword het. Is dit volledig toegerus? Is die pompe in ’n werkende toestand? Word die water benut? Indien nie, waarom nie? Dit is nie voldoende om boorgate te boor en projekte as afgehandel aan te dui indien die infrastruktuur nie behoorlik funksioneer nie.
“Hoeveel langer moet inwoners van Residentia nog sonder water wees voordat die munisipaliteit daadwerklik optree? Die inwoners verdien nie net verduidelikings nie, maar ’n werkbare oplossing,” sê Ikking.
AfriForum wys daarop dat artikel 27(1)(b) van die Grondwet elkeen se reg op toegang tot voldoende water beskerm. Die munisipaliteit het ook ’n grondwetlike verantwoordelikheid om basiese dienste op ’n volhoubare wyse te lewer.
'AfriForum oorweeg ’n klagte by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie en moontlike regsoptrede'
Volgens die organisasie laat die voortslepende waterkrisis in Residentia, tesame met die gebrek aan kommunikasie deur die munisipale bestuur, ernstige vrae oor dienslewering en aanspreeklikheid ontstaan.
Indien die munisipaliteit steeds versuim om op te tree, sal AfriForum verdere stappe oorweeg, waaronder ’n klagte by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie en moontlike regsoptrede.
“Adonis en die munisipaliteit moet besef dat hulle ’n verantwoordelikheid teenoor inwoners het. Ons sal voortgaan om druk op die munisipaliteit uit te oefen totdat hierdie krisis opgelos is,” sê Ikking.
OFM Nuus het navrae aan die munisipaliteit gerig.
OFM Nuus sm
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

