On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Vier beskuldigdes in Noordwes-plaasaanval laat borgtogaansoeke vaar

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:55 Fri, 13 Nov 2026

Vier beskuldigdes in Noordwes-plaasaanval laat borgtogaansoeke vaar | News Article
Die vier beskuldigdes in die hof. Inlas: Donovan Marx. Foto skermgreep/AfriForum

Die vier mans wat aangekla word van die wrede aanval op ’n Noordwes-boer, het Vrydag (13/11) hul borgtogaansoeke laat vaar.

Phimdile Alex Nomngcayi (30), Thomas Thabo Motlhonglong (27), Mothoka Godfrey Mathipa (56) en Mokhema Jan Maishone (53) het in die Ventersdorpse landdroshof verskyn in verband met die aanval op Donovan Marx (50). Hulle sal minstens die volgende drie maande in aanhouding bly en moet weer op 15 Februarie in die hof verskyn.

Hulle staan tereg op aanklagte van onder meer poging tot moord, roof met verswarende omstandighede, aanranding en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Nomngcayi het voorheen op die Marx-egpaar se plaas gewoon. Een van die ander beskuldigdes kan moontlik ’n staatsgetuie word en teen sy medebeskuldigdes getuig.

Marx is Donderdag (12/11) uit Mediclinic Potchefstroom ontslaan nadat hy vir ernstige beserings behandel is wat hy tydens die aanval tussen Potchefstroom en Ventersdorp op 28 Oktober opgedoen het. Hy is twee dae tevore van intensiewe sorg na ’n gewone hospitaalsaal oorgeplaas.

Hy het ernstige inwendige beserings opgedoen.’n Gedeelte van sy kolon moes chirurgies verwyder word. Albei sy ore is afgesny en kon nie weer geheg word nie. Hy sal waarskynlik later rekonstruktiewe chirurgie benodig.

Die aanvallers het na bewering omstreeks 08:00 op die plaas toegeslaan, ’n elektriese heining geknip en ’n plaaswerker, Christopher Jings, oorrompel en vasgebind.


Marx is later ook oorrompel en gemartel. Hy is in die bolyf geskiet en met ’n mes in die been gesteek. Die aanvallers het na bewering met vuurwapens en geld op die vlug geslaan. Vyf verdagtes is sedertdien in hegtenis geneem.

Die polisie het ook op vier vuurwapens beslag gelê, waarvan een met die aanval verbind word, asook klere en juweliersware. Kapt. Bonita Dry, bevelvoerder van die Ventersdorp-speurtak, en haar span het die vermeende betrokkenes enkele dae ná die aanval vasgetrek.

Landdros Trevor Leballo het die erns van die aanklagte tydens ’n vorige hofverskyning beklemtoon en gesê die beskuldigdes kan, indien hulle skuldig bevind word, tronkstraf van tussen 15 jaar en lewenslange gevangenisstraf opgelê word. Die vier mans bly in aanhouding tot hul volgende hofverskyning.

OFM Nuus sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.