On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Meer as passie nodig om DBV in Noordwes te red

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:14 Fri, 13 Nov 2026

Meer as passie nodig om DBV in Noordwes te red | News Article
Die DBV in Mafikeng benodig dringend hulp. Foto: OFM Nuus

’n Toevlugsoord vir weerlose diere sal binnekort moet sluit as daar nie dringend hulp kom om sy toenemende geldnood te verlig nie.

’n Ernstige finansiële krisis staar die DBV in Mafikeng in die gesig. Die maandelikse bedryfskoste van sowat R85 000 oorskry sy huidige inkomste ver.

“Die organisasie is by ’n keerpunt waar volhoubare ondersteuning van die gemeenskap en plaaslike ondernemings noodsaaklik geword het om voort te bestaan,” sê Anna-Marie Press, sekretaris van die DBV se bestuurskomitee.

Die finansiële druk raak feitlik elke aspek van die organisasie se daaglikse bedrywighede. Salarisse beloop ongeveer R35 200 per maand, terwyl brandstof- en voertuiguitgawes sowat R15 000 beloop. Dierevoer kos tussen R5 000 en R8 000 per maand, met verdere uitgawes soos debietorders en versekering van R6 500, elektrisiteit van R5 000 en veeartsenykundige dienste van ongeveer R5 000.

Die DBV ontvang ook elke dag minstens twee honde en tien katte waarvan baie in bokse by die hek gelaat word. Foto verskaf

“Hoewel die DBV verskeie geldinsamelingspogings aangepak het, is dit eenvoudig nie genoeg om die vaste maandelikse uitgawes te dek nie,” sê Press. Die organisasie versorg op ’n gemiddelde dag ongeveer 33 honde en tussen 15 en 20 katte in sy hokke. Die getalle verander egter voortdurend weens daaglikse noodgevalle, afstanddoenings en verlate diere.

Benewens die versorging van die diere op die perseel, moet die span ook daagliks op klagtes van dieremishandeling, verwaarlosing en noodreddings in ’n uitgestrekte diensgebied reageer.

Die brandstofkrisis het egter die situasie verder bemoeilik. Press sê die DBV se brandstofgeld is uitgeput en bestuurskomiteelede betaal self uit hul sak om te verseker dat inspekteurs steeds by diere in nood kan uitkom. ’n Plaaslike brandstofverskaffer het ook geduldig gewag terwyl die organisasie geld probeer insamel om sy rekening te vereffen.

Een van die grootste uitdagings by die DBV is die gebrek aan praktiese gemeenskapsondersteuning. Foto verskaf

Danksy hierdie ondersteuning kan hulle steeds op kritieke oproepe reageer, waaronder die redding van beeste en honde wat in mangate geval het, asook die veilige verwydering van slange uit inwoners se huise. Dit is egter nie ’n volhoubare oplossing nie.

Hulle maak staat op slegs ses voltydse personeellede, onder wie ’n leerlinginspekteur, ’n leerlingveldbeampte en ’n dierewelsynassistent. Daar is ook vyf aktiewe lede in die bestuurskomitee, nadat die getal tot onlangs net drie was.

Die beperkte getal personeellede beteken dat die bestaande span ’n enorme werklading moet dra, terwyl daar nie genoeg geld is om nog mense aan te stel nie. Geldinsamelings soos Funky Socks-dag en Mandeladag-projekte is reeds aangepak, en die komitee nader ook plaaslike ondernemings vir moontlike vennootskappe.

Van die personeel by die DBV met twee honde wat gered is. Foto verskaf

“Een van die grootste uitdagings is egter die gebrek aan praktiese gemeenskapsondersteuning en vrywilligers met spesifieke vaardighede. Die DBV sukkel selfs om ’n vrywilligerfotograaf te kry wat goeie foto’s van die diere in die hokke kan neem om hul aannemingsplasings op sosiale media te verbeter.” 

Om tot dusver kop bo water te hou, moes privaat individue selfs persoonlike lenings aangaan om personeel se salarisse te betaal. Die organisasie het ook swaar op voedselskenkings van die Nasionale Raad van DBV’s en omliggende DBV’s staatgemaak. “Dit is egter nie iets waarop ons onbepaald kan voortgaan nie,” sê sy.

Jacques Peacock, kommunikasiebestuurder van die nasionale vereniging, sê plaaslike DBV’s is in wese gemeenskapsorganisasies waarvan die voortbestaan direk afhanklik is van die ondersteuning en betrokkenheid van hul gemeenskappe.

Gemeenskapsbetrokkenheid

“Plaaslike bestuurskomitees speel ’n belangrike rol in die bestuur en leiding van elke DBV, terwyl skenkings, fondsinsamelings en ondersteuning van inwoners en ondernemings ewe noodsaaklik is.”

Hy sê een van die tendense wat die NDBV veral op kleiner dorpe opmerk, is dat gemeenskapsbetrokkenheid met die jare afneem. Dit dra daartoe by dat kleiner DBV’s weens ernstige finansiële druk of ’n gebrek aan gemeenskapsbetrokkenheid hul deure moet sluit. “Hoewel DBV’s organisasies sonder winsoogmerk is, het hulle steeds dieselfde soort noodsaaklike uitgawes as ander organisasies.”

Dit sluit in munisipale rekeninge, privaat veeartskoste, salarisse, voertuigonderhoud en die instandhouding van die perseel. Personeel is ook noodsaaklik vir die daaglikse versorging van diere, die skoonmaak van hokke, inspeksies en vervoer.

“Al daai goed maak ’n groot hoop uitgawes elke liewe maand. Ek wil die gemeenskappe vra om weer by hul plaaslike DBV betrokke te raak, selfs al beskik mense nie oor baie tyd of geld nie.”

Die DBV doen 'n beroep op mense om as vrywilligers betrokke te raak. Foto verskaf

Hy sê inwoners kan ’n Saterdagoggend opsy sit om die DBV te besoek, die personeel en diere te leer ken en te kyk waar hulle kan help. “Dit hoef nie noodwendig groot bedrae te wees nie. ’n Kleingeldblikkie by ’n onderneming se ontvangs of selfs ’n maandelikse skenking van R100 kan ’n betekenisvolle verskil maak.”

Press vra individue en ondernemings om maandelikse debietorders, korporatiewe borgskappe en brandstofondersteuning te oorweeg. “Individue kan maandeliks R50, R100, R500 of R1 000 bydra, terwyl ondernemings ook kan help met brandstof, veeartsenykundige uitgawes, dierevoer en skoonmaakmiddels.

Sy sê met voldoende ondersteuning wil die DBV nie bloot oorleef nie, maar ook sy dienste uitbrei. Dit sluit gemeenskapsuitreike, inentingsveldtogte en moontlike registrasie as ’n uitnemendheidsentrum vir hondsdolheid in samewerking met die staatsveearts in.

Mense wat wil help, kan die DBV direk by 018 381 0374 kontak of ’n e-pos stuur.

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.