On Now
Weekends 09:00 - 13:00
The Central SA Top 40 Laurika
Show Background
NEXT: 13:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Benita
Listen Live Streams

Central SA

Ses mans kry tronkstraf ná kitsbankontploffing in Bloemfontein

───   SIYAKHOLWA MBATYAZWA 08:49 Sat, 14 Nov 2026

Ses mans kry tronkstraf ná kitsbankontploffing in Bloemfontein | News Article
Ses mans tronk toe gestuur vir die kitsbankontploffing in 2023 in Heidedal, Bloemfontein. Foto verskaf

Die ses mans is Donderdag (12/11) in die Bloemfonteinse landdroshof tronkstraf opgelê vir ’n kitsbankbomontploffing meer as drie jaar gelede by ’n vulstasie in Heidedal.

Op 14 April 2023 in die vroeë oggendure het onbekende mans ’n vulstasie in McGregorstraat, East End, Bloemfontein genader. Hulle het die kitsbank by die vulstasie opgeblaas en groot skade aangerig.  Ao. Sinah Mpakane, Vrystaatse polisiewoordvoerder, sê Bloemsec, ’n private veiligheidsmaatskappy, het op die alarm gereageer. Met die veiligheidswagte se aankoms op die toneel is daar op hul voertuig geskiet. 

“Lede van die publiek het ook by die vulstasie aangekom om hul voertuie met brandstof vol te maak. Die verdagtes het op hulle geskiet en twee mense is met beserings in die hospitaal opgeneem.” 


Hy sê die polisie is na die toneel ontplooi en daar is ook op hulle geskiet. Nie een van die beamptes is beseer nie en die mans het te voet gevlug sonder dat geld uit die kitsbank geneem is. 

“Sers. Jan Johannes Greef, ondersoekbeampte, het inligting ontvang dat die verdagtes by ’n huis in Namibia Square, Bloemfontein skuil. Die moord- en roofeenheid, opsporingseenheid, honde-eenheid, taktiese reaksiespan en misdaadintelligensie het op die huis toegeslaan.”

’n Kitsbankontploffing. Foto ter illustrasie 

Die verdagtes is in hegtenis geneem en drie vuurwapens en plofstof is in hul besit gevind. Op 27 Oktober vanjaar het James Thlao, een van die beskuldigdes, skuld beken op die aanklag van beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur. Hy is tot ses jaar tronkstraf gevonnis, asook drie maande tronkstraf omdat hy in die land is sonder wettige dokumentasie. 

Die ander vyf beskuldigdes het ook op (12/11) skuld beken. Molebatsi Sekhoe, Langani Sithole en Khulise Lepeli is elk tot ses jaar tronkstraf gevonnis vir die beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur en bykomende drie maande omdat hulle onwettig in die land is. Masego Goitimo is tronkstraf van agt jaar opgelê vir die besit van ongemagtigde vuurwapens. Keketso Kellelo gaan agt jaar tronk toe vir poging tot moord en drie maande omdat hy ook ’n onwettige immigrant is. 

Lt.gen. Thabang Lesia, provinsiale kommissaris, het die polisie geloof vir hul vinnig reaksie, asook vir Greef vir sy deeglike ondersoek. Hy is ook tevrede met die suksesvolle vervolging en vonnisoplegging. Hy veroordeel die beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur en die aanvalle op die publiek en die polisie ten sterkste. 

OFM Nuus dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.