Central SA
Drie mans van Noordwes aangekeer vir vermoedelike renosterstropery─── SIYAKHOLWA MBATYAZWA 08:42 Sun, 15 Nov 2026
Drie Mosambiekse burgers sal na verwagting Maandag (16/11) in die Potchefstroomse landdroshof verskyn nadat hulle naby Klerkskraal in hegtenis geneem is op aanklagte wat met vermeende renosterstropery verband hou.
’n Verdagte goue Toyota RunX is opgemerk wat van Lichtenburg in die rigting na Ventersdorp gery het. “Die polisie het kameras en voertuigopsporingstegnologie gebruik en die motor op die N14 naby die Klerkskraal-polisiekantoor voorgekeer,” sê kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder.
“Die motor is deursoek en daar is beslag gelê op ’n .375-kaliber jaggeweer, ammunisie, klapmusse, handskoene en slagtersmesse.” Hulle is onmiddellik in hegtenis geneem en aangekla van die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie, asook sameswering om ’n misdaad te pleeg. Die mans kon nie verduidelik hoekom die items in hul besit was nie.
Lt.genl. Arthur Adams, provinsiale kommissaris, het die samewerking tussen die polisie en private veiligheidsmaatskappye geprys. Hy sê dit is belangrik om inligting te deel en vir die polisie om proaktief op te tree om misdaad te voorkom.
“Die inhegtenisnemings van die verdagtes is ’n bewys samewerking en die gebruik van tegnologie is waardevol om misdadigers aan te keer. Die Eyes and Ears-inisiatief versterk ons kollektiewe pogings om misdadige aktiwiteite te bekamp.”

Die polisie het op verskeie items beslag gelê. Foto: SAPD
“Ons is veral bly dat ons verdagtes kon aankeer wat vermoedelik by renosterstropery betrokke is voordat hulle hul planne kon uitvoer.” Adams het ook Polygraph Services South Africa en die misdaadintelligensie in die Oos-Kaap bedank vir hul rol in die identifisering, opsporing en monitor van die verdagtes.
Die Eyes and Ears-inisiatief is ’n vennootskap tussen die openbare en private sektor om misdaad te bekamp. Die polisie, Business Against Crime South Africa en die private veiligheidsbedryf is hierby betrokke. Dit fasiliteer die deel van inligting en hulpbronne om misdaadvoorkoming, -opsporing en wetstoepassingsoperasies te versterk.
OFM Nuus dg
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

