On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Matrieks ‘moenie dat uitputting jare se harde werk verydel nie’

───   KEKELETSO MOSEBETSI 10:39 Mon, 16 Nov 2026

Matrieks ‘moenie dat uitputting jare se harde werk verydel nie’ | News Article
Noordwes-matrikulante bid saam tydens ’n seremonie waar hulle onderneem het om op etiese wyse eksamen te skryf. Foto: Facebook

Matrikulante in Noordwes word gemaan om nie toe te laat dat eksamenmoegheid jare se harde werk verydel nie, noudat meer as die helfte van die 2026-eksamen vir die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) afgehandel is.

Hoewel talle matrieks dalk daarna uitsien om ’n uitdagende en spanningsvolle jaar agter die rug te kry, moedig Angelina Lerato Mokoena, president van Noordwes se verteenwoordigende leerderraad, hulle aan om nie momentum te verloor nie. Sy herinner kandidate daaraan dat hul harde werk, toewyding, opofferings en deursettingsvermoë nie verniet sal wees nie en moedig hulle aan om met dieselfde ywer as aan die begin van die eksamen voort te gaan.

“Ek wil julle daaraan herinner dat byna 60% van julle eksamen agter die rug is. Dit   beteken julle is byna by die eindpunt van die reis of die doelwit wat julle vir julself gestel het. Julle moet jul laaste vraestel met dieselfde ywer as jul eerste een aflê. Ons glo in julle, staan agter julle en ondersteun julle steeds.”

Mokoena waarsku leerders ook om nie toe te laat dat eksamenmoegheid hul prestasie benadeel nie en moedig hulle aan om hul veiligheid en welstand voorop te stel. Sy waarsku veral teen die bywoning van penne-neer-partytjies en die gebruik van alkohol of dwelms, wat jare se harde werk in gevaar kan stel.


“Moenie drank of dwelms gebruik of selfs penne-neer-partytjies bywoon net om ’n oomblik te vier nie. Laat julle finale uitslagstaat vir die NSS die rede vir jul vieringe wees. Vier dit saam met jul familie en goeie vriende.”

Meer as 52 000 leerders lê vanjaar die NSS-eksamen in Noordwes af. Dit sluit 48 440 voltydse en 3 760 deeltydse kandidate in. Die provinsie het in 2025 ’n matriek­slaagsyfer van 88,49% behaal en die vierde plek landwyd beklee. Dit is ’n verbetering van 0,99 persentasiepunte op die slaagsyfer van 87,5% in 2024.

Die provinsiale onderwysdepartement doen ook ’n beroep op ouers, onderwysers, gemeenskappe en ander belanghebbendes in die onderwys om kandidate gedurende die eksamentydperk te ondersteun deur ’n omgewing te skep wat bevorderlik is vir studie en akademiese sukses.

OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi cvs

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.