On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Spesiale stemme uitgebring voor nuwe stemmery op Douglas

───   KEKELETSO MOSEBETSI 09:37 Tue, 17 Nov 2026

Spesiale stemme uitgebring voor nuwe stemmery op Douglas | News Article
Photo: OFM Nuus

Spesiale stemme word reeds uitgebring voor die nuwe verkiesing in wyk 3 van Siyancuma-munisipaliteit op Douglas in die Noord-Kaap.

Die OVK het besluit kiesers moet weer stem weens die vernietiging van stembriewe tydens die onlangse plaaslike verkiesing. ’n Groep ondersteuners van politieke partye het glo ná ’n geskil oor stembriewe die tellokaal in die Bongani-gemeenskapsaal op Douglas binnegedring.

Sowat honderd stembriewe is glo tydens die tellery vernietig, waarna die OVK ’n herverkiesing in die wyk vir Woensdag (18/11) gelas het. 

Elkin Topkin, provinsiale verkiesingsbeampte, het vroeër gesê die stembrief kan verander na gelang van die uitslag van ’n aansoek wat die OVK by die kieshof ingedien het.


Die kommissie het die hof gevra om die erns van die beweerde oortredings van die Wet op Munisipale Verkiesings te oorweeg en gepaste strawwe op te lê. “As die kieshof dié politieke party deregistreer, sal sy naam dalk nie op die stembrief verskyn nie.

“Ons stel die druk van stembriewe uit tot op ’n redelike datum,” het hy gesê. “Ek sê nie die kieshof sal dit doen nie, maar dit is een van die strawwe wat hy kan oplê. Daar is ander strawwe, soos ’n boete van tot R200 000, die verbeuring van die deposito wat reeds betaal is, die kansellering van kandidatuur en die vermindering van die getal stemme.”

Kommer word landwyd oor kiesersuitputting uitgespreek, maar hy het gesê die OVK het voorbereidings getref vir ’n redelike opkoms op die nuwe stemdag in Siyancuma-munisipaliteit.

Intussen staan tien beskuldigdes tereg op aanklagte wat verband hou met die voorval. Hulle is Danfrid Morolong, Bennert Hendricks, Abrich Niewenhuizen, Velaphi Makabe, Tevin Katz, Godwin Leukes, Zenobia Smit, Jennifer Lovern, Elemery Jacobs en Douglas Njiji. Die aanklagte sluit in die oortreding van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Verkiesings (Wet 27 van 2000), opsetlike saakbeskadiging, aanranding en intimidasie.

Hul optrede het na bewering ook daartoe gelei dat OVK-beamptes verhinder is in die uitoefening van hul bevoegdhede en die uitvoering van hul pligte.

Mojalefa Senokoatsane, Noord-Kaapse NVG-woordvoerder, sê die tien beskuldigdes het in die distrikshof op Douglas verskyn, waar borgtog van R500 elk aan hulle toegestaan is ondanks die staat se versoek dat borgtog op R5 000 vasgestel word.

Die saak is tot 14 Januarie uitgestel.

OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi cvs

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.