On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaatse matrikulant sterf tydens laaste voorbereiding vir eksamenvakke

───   SIYAKHOLWA MBATYAZWA 10:01 Tue, 17 Nov 2026

Vrystaatse matrikulant sterf tydens laaste voorbereiding vir eksamenvakke | News Article
Tshidiso Madiehe Masakale het midde-in die eindeksamen gesterf. Foto verskaf

’n Gr. 12-leerder van Thaba Nchu oos van Bloemfontein is skielik oorlede vier dae voordat hy sy laaste vak sou skryf en terwyl hy ’n skoolkamp ter voorbereiding op sy laaste eksamenvakke bygewoon het

Die Vrystaatse onderwysdepartement spreek sy skok en hartseer uit oor die dood van die 18-jarige. Tshidiso Madiehe Masakale was ’n leerder aan die Sekondêre Skool RT Mokgopa. 

Howard Ndaba, Vrystaatse onderwyswoordvoerder, sê hy het die kamp saam met medeleerders bygewoon ter voorbereiding vir hul laaste eksamenvraestelle. “Hy sou Maandag (16/11) lewenswetenskappe se tweede vraestel geskryf het. Sy laaste eksamenvraestel was vir Donderdag geskeduleer.”

Tshidiso is Maandagoggend omstreeks 01:00 op die skoolterrein aangetref en het nie gereageer nie. Mediese nooddienste is ontbied en hy is op die toneel dood verklaar. Die omstandighede rondom sy dood is nog nie amptelik vasgestel nie.


“Die polisie was op die toneel en forensiesepatologie-dienste het sy liggaam vir verdere ondersoek weggeneem. ’n Geregtelikedoodsondersoek-dossier is by die Selosesha-polisiekantoor geopen en die polisieondersoek duur voort,” sê Ndaba.

Dr. Mantlhake Julia Maboya, Vrystaatse onderwys-LUR, sê die departement is diep geskok en bedroef oor Tshidiso se afsterwe. Sy beskryf hom as ’n belowende jong leerder wat oorgehaal was om sy skoolloopbaan te voltooi.

“Namens die departement betuig ek ons innige meegevoel met sy ouers, familie, vriende, medekandidate, opvoeders en die hele skoolgemeenskap van die Sekondêre Skool RT Mokgopa. Ons deel in jul verdriet en staan julle by in hierdie pynlike tyd.”

Tshidiso Madiehe Masakale. Foto verskaf

Ook die departement betuig sy innige meegevoel met almal wat deur dié tragiese verlies geraak word. Ndaba sê leerders het reeds psigomaatskaplike ondersteuning ontvang. 

Die ondersteuningspan het op die skoolterrein aangebly om voortgesette berading te bied en leerders se emosionele welstand te monitor, veral dié wat regstreeks deur die voorval geraak is.

“Die departement sal die nodige ondersteuning in hierdie moeilike tyd aan die skool bied en toesien dat gepaste maatreëls getref word vir die doeltreffende afneem, administrasie en bestuur van die eksamen.

“Dié ondersteuning sal veral belangrik wees namate ons die laaste twee weke van die 2026-eksamen vir die Nasionale Senior Sertifikaat binnegaan.”

Ndaba sê die departement doen ’n beroep op die publiek en media om die familie se privaatheid en waardigheid te respekteer en die polisie toe te laat om hul ondersoek sonder bespiegeling af te handel.

OFM Nuus cvs

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.