On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Oudbestuurder van Clover se bedrogsaak na hoër hof

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:31 Wed, 18 Nov 2026

Oudbestuurder van Clover se bedrogsaak na hoër hof  | News Article
Werner Veldman. Foto verskaf

Die oudbestuurder van ’n Noord-Kaapse Clover SA-tak kom na verwagting weer voor op 7 Desember, dié keer in ’n hoër hof.

Werner Veldman (45) het Maandag (16/11) in die Kimberleyse landdroshof verskyn waar sy saak na die handelsmisdaadhof oorgeplaas is. Hy word daarvan beskuldig dat hy Clover na bewering uit meer as R3 miljoen bedrieg het, sê lt.kol. Tebogo Thebe, provinsiale Valke-woordvoerder.

Veldman is vroeër op borgtog van R10 000 vrygelaat. Hy staan tereg op ’n aanklag van bedrog, alternatiewelik diefstal, asook ’n oortreding van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies (Wet 25 van 2002) en die Maatskappywet.

Hy is deur die Valke se eenheid vir ernstige handelsmisdaad in Johannesburg in hegtenis geneem en daarna na Kimberley geneem om voor te kom. Hy het na bewering tussen 1 Januarie en 30 April 2024, terwyl hy as takbestuurder in Kimberley werksaam was, Clover se rekeningkundige stelsel gemanipuleer om sekere transaksies verkeerd aan te teken.

“Fakture wat kontant betaal is, is na bewering in die stelsel as elektroniese bankoordragte aangedui. Die beweerde bedrog het tydens bankrekonsiliasie aan die lig gekom toe verskille opgemerk is tussen die kontant wat ontvang is en die EFT-betalings wat in die stelsel aangeteken is.”

‘Die staat beweer die gesin het tussen 2017 en 2022 die R700 Truck Stop op Hoopstad uit sowat R940 000 bedrieg’

In ’n afsonderlike bedrogsaak kom ’n Vrystaatse egpaar en hul twee seuns Woensdag (18/11) voor vir beweerde bedrog van byna R1 miljoen.

Pieter (63) en Elizabeth (62) Smit en hul seuns, Marnu (32) en Estean (30), se saak is op 16 September in Hoopstad se landdroshof uitgestel sodat afskrifte van die dossier gemaak kon word. Die vier staan tereg op aanklagte van bedrog, diefstal en geldwassery, sê ao. Fikiswa Matoti, Vrystaatse Valke-woordvoerder.

Die staat beweer die gesin het tussen 2017 en 2022 die R700 Truck Stop op Hoopstad uit sowat R940 000 bedrieg. Die onderneming, wat diesel aan boere verskaf, is deur die klaer gekoop.

Vrystaatse gesin in hof oor beweerde bedrog met diesel | News Article

Pieter en Elizabeth Smit. Foto verskaf

Hy het daarna die bestuur aan Pieter toevertrou, wat voorheen verantwoordelik was vir die onderneming se bedrywighede en daarmee vertroud was.

“Die beweerde bedrog het aan die lig gekom nadat die eienaar ’n daling in die onderneming se wins begin waarneem het,” sê Marisa Lötter van Lötter & Associates op Hoopstad. Sy ondersoek die saak al byna drie jaar.

Die Valke het die ondersoek op versoek van die eienaar aangepak en verskeie verdagte transaksies geïdentifiseer. “Na bewering is die kliënte se besonderhede in sekere transaksies gebruik, terwyl die geld na bankrekeninge herlei is wat nie aan hulle behoort nie. Die ondersoek het ook getoon sommige klante het vir diesel betaal, maar nooit hul bestellings ontvang nie,” sê Matoti.

Die Smit-familie is op 31 Augustus elk op borgtog van R5 000 vrygelaat. Hul borgtog is later verleng.

OFM Nuus sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of WhatsApp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.