Central SA
Méér as net goeie punte berei meisies voor op toekoms─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:39 Wed, 18 Nov 2026
Jong meisies moet vandag met meer as net goeie punte toegerus word om die uitdagings van die lewe met selfvertroue, kennis en onafhanklikheid aan te pak.
Dit is die boodskap agter LivvSky, ’n inisiatief wat deur Marlie Coetzee (36) begin is om jong meisies te help om reeds tydens hul hoërskooljare belangrike lewensvaardighede te ontwikkel. Die Future-Ready-program is ’n 14-week-program.
Die inhoud is toegespits op onder meer selfvertroue, finansiële geletterdheid, gesonde verhoudings, persoonlike ontwikkeling en voorbereiding vir die wêreld daarbuite.
Die idee vir LivvSky het oor verskeie jare ontwikkel uit Coetzee se eie lewenservaring, akademiese agtergrond en loopbaan in die korporatiewe wêreld. Sy het ’n MBA voltooi, meer as twaalf jaar in die professionele korporatiewe sektor gewerk, waarvan sewe jaar in ’n bestuurspos, en ook die geleentheid gehad om internasionaal te reis en met mense uit verskillende kulture en agtergronde saam te werk.

Dit was juis hierdie ervarings wat haar laat besef het dat daar talle belangrike vaardighede is wat nie noodwendig in skoolhandboeke aangeleer word nie.
“Jong mense kan akademies uitstekend presteer, maar steeds onseker voel wanneer hulle die grootmenswêreld betree. Basiese vaardighede soos om ’n begroting op te stel, moeilike besluite te neem, persoonlike grense te stel en met selfvertroue met ander mense te kommunikeer, is alles dinge wat ’n groot verskil aan ’n jong mens se toekoms kan maak,” sê Coetzee.
As ma van twee kinders het hierdie besef vir haar al hoe belangriker geword. Sy wou hê dat jong meisies die geleentheid moet kry om reeds op skool praktiese lewensvaardighede aan te leer, eerder as om eers later in hul lewens of deur moeilike omstandighede daarmee kennis te maak.
Een van die grootste uitdagings waarmee jong meisies vandag te kampe het, is volgens Coetzee die geweldige druk om op verskillende gebiede te presteer. “Hulle moet akademies goed vaar, sosiaal inpas, aan sekere voorkomsverwagtinge voldoen en boonop op ’n jong ouderdom reeds besluite oor hul toekomstige loopbane neem.”
Sosiale media vererger dikwels hierdie druk, aangesien meisies hulself nie net met hul klasmaats vergelyk nie, maar ook met mense wêreldwyd. Dit kan daartoe lei dat hulle hul waarde begin meet aan hul voorkoms, hoeveel aandag hulle kry en hoeveel volgelinge hulle op sosiale platforms het. “Ek wil hê meisies moet verstaan hulle hoef nie perfek te wees om waardevol te wees nie.”
Coetzee glo ouers moet eerder vir hul dogters ruimte gee om hul eie identiteit te ontdek, hul sterk- en swakpunte te verstaan en hul belangstellings te ontwikkel. Die rol van ’n ouer behoort nie noodwendig te wees om elke besluit namens ’n kind te neem nie, maar eerder om as mentor op te tree en leiding te gee sonder om die kind se eie ontwikkelingsproses te beperk.
‘Finansiële onafhanklikheid gaan egter oor veel meer as net die bestuur van geld’
By LivvSky word jong meisies daarom blootgestel aan vroue met werklike lewenservaring, mislukkings en suksesverhale. Die doel is om ’n veilige omgewing te skep waar hulle vrae kan vra, oor uitdagings kan gesels en uit ander se ervarings kan leer.
Een van die belangrikste aspekte waarop die program fokus, is finansiële geletterdheid. “Dit is een van die belangrikste vorme van bemagtiging wat ons vir jong meisies kan gee,” sê Coetzee.
“Finansiële kennis stel meisies in staat om verantwoordelikheid vir hul eie lewens te aanvaar en te voorkom dat hulle eendag in ’n posisie beland waar finansies gebruik word om hulle te onderdruk. Daarom leer die program hulle onder meer hoe om te begroot, te spaar, skuld te bestuur en die verskil tussen ’n behoefte en ’n begeerte te verstaan.”

Met dié dat die wêreld van werk voortdurend verander, is voorbereiding op toekomstige loopbane en nuwe tegnologie ook ’n belangrike deel van die inisiatief. Foto verskaf
Ander onderwerpe sluit in saamgestelde rente, die terugbetaling van skuld en die langtermynvoordele daarvan om vroeg reeds te begin spaar, selfs al is dit net ’n klein bedrag elke maand.
Coetzee sê finansiële onafhanklikheid gaan egter oor veel meer as net die bestuur van geld. Jong meisies moet ook verstaan hoe om geld te verdien, te belê en te bestuur sodat hulle hul finansiële posisie op die lang termyn kan verbeter.
Die program se benadering is holisties en ingestel op meer as akademiese of finansiële ontwikkeling. Selfvertroue, kommunikasievaardighede, leierskap, deursettingsvermoë, veerkragtigheid, entrepreneurskap en gesonde verhoudings vorm alles deel van die inhoud.
Foute deel van groei
Coetzee beklemtoon ook die belangrikheid daarvan om foute as deel van persoonlike ontwikkeling te beskou. “Foute is vriende, want foute is waar jy leer.”
Daar word ook aandag gegee aan persoonlike welstand, gesonde eetgewoontes, voldoende slaap en oefening, asook die belangrikheid daarvan om verantwoordelikheid vir jou eie besluite en doelwitte te aanvaar.
Met dié dat die wêreld van werk voortdurend verander, is voorbereiding op toekomstige loopbane en nuwe tegnologie ook ’n belangrike deel van die inisiatief.
‘Die Future-Ready-program word aanlyn aangebied en is spesifiek op hoërskoolmeisies tussen 15 en 18 jaar gerig’
Hoewel niemand presies kan voorspel watter beroepe oor tien jaar beskikbaar gaan wees nie, glo Coetzee dat jong meisies toegerus moet word om aanpasbaar te wees, probleme op te los, krities te dink en voortdurend nuwe vaardighede aan te leer.
Entrepreneurskap word aangemoedig deur meisies te leer hoe om geleenthede raak te sien en sake-idees in moontlike ondernemings te ontwikkel. Kunsmatige intelligensie vorm ook deel van die gesprek, met die klem op verantwoordelike en intelligente gebruik van tegnologie, eerder as om toe te laat dat dit besluite namens hulle neem.
Die Future-Ready-program word aanlyn aangebied en is spesifiek op hoërskoolmeisies tussen 15 en 18 jaar gerig. Dit is in Afrikaans en Engels beskikbaar en bestaan uit interaktiewe sessies waarin Coetzee self as mentor optree.
Sy is ’n geakkrediteerde lewensafrigter, maar beskryf haar rol eerder as dié van ’n ouer suster met wie meisies gemaklik kan gesels, vir wie hulle vrae kan vra en by wie hulle raad kan kry.

Ouers kan nie elke klip uit hul kinders se pad rol nie, maar kan wel die nodige blootstelling, kennis en leiding bied sodat hul kinders beter voorbereid is wanneer moeilike situasies oor hul pad kom. Foto verskaf
Benewens die aanlyn sessies ontvang deelnemers praktiese take wat hulle aanmoedig om kreatief en onafhanklik te dink en die kennis wat hulle opdoen in hul eie lewens toe te pas. Ouers word ook by die proses betrek en ontvang weeklikse terugvoer oor hul dogters se vordering.
Die eerste groep deelnemers begin reeds einde Januarie 2027. Coetzee hoop dat meisies ná die 14 weke nie bloot geïnspireer sal voel nie, maar werklik ’n beter begrip van hulself sal hê, slimmer met hul geld sal kan werk, minder bang sal wees om vrae te vra en met groter selfvertroue besluite oor hul toekoms sal kan neem.
“Ons wil nie vir meisies voorskryf wie hulle moet wees nie. Ons wil hulle toerus met kennis dat hulle self kan ontdek wie hulle kan wees,” sê sy.

Prestasies, kwalifikasies, titels en hoeveel mense jou op sosiale media volg, bepaal nie jou waarde as mens nie. Foto verskaf
Vir ouers wat oorweeg om in die program te belê, sê sy die waarde daarvan strek veel verder as net die 14 weke van opleiding. Dit gaan daaroor om hul dogters toe te rus met vaardighede wat hulle moontlik vir die res van hul lewe sal kan gebruik.
Ouers kan nie elke klip uit hul kinders se pad rol nie, maar kan wel die nodige blootstelling, kennis en leiding bied sodat hul kinders beter voorbereid is wanneer moeilike situasies opduik.
“Ons kan nie elke uitdaging uit ons kinders se pad verwyder nie. Maar ons kan vir hulle die blootstelling gee om hulle te help om vaardighede, selfvertroue en goeie oordeel te ontwikkel,” sê sy.

Wanneer sy terugdink aan haar eie tienerjare, is daar veral een lewensles wat sy wens sy vroeër geleer het: “Moenie jou lewe bou rondom ander mense se goedkeuring nie.”
Prestasies, kwalifikasies, titels en die hoeveelheid mense wat jou op sosiale media volg, bepaal nie jou waarde as mens nie. Mislukkings is ook nie die teenoorgestelde van sukses nie, maar dikwels bloot deel van die pad daarheen.
“Laat jouself toe om foute te maak, van plan te verander en ’n ander pad te kies as die een wat jy aanvanklik in gedagte gehad het.”
Meer inligting oor die LivvSky Future-Ready Programme is beskikbaar by livvsky.com.
OFM Nuus/Charne van der Merwe cvs
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.
