On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Dealesville-inwoners al langer as drie weke sonder water

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:37 Wed, 18 Nov 2026

Dealesville-inwoners al langer as drie weke sonder water | News Article
Inwoners van Dealesville is al weke sonder water. Foto: iStock

Huishoudings op Dealesville in die Wes-Vrystaat sukkel om selfs in hul basiese waterbehoeftes te voorsien terwyl hulle langer as drie weke sonder lopende water probeer klaarkom.

 “Dit is dag 24 sonder water,” vertel Adele Verster. Die watervoorsiening was selfs voorheen problematies, want inwoners het tydens die ses voorafgaande naweke ook nie water gehad nie.

“ ’n Mens kan nie sonder water lewe nie.” Verster sê inwoners het voorheen soms gedurende die dag water gehad, maar dit was juis wanneer die meeste mense by die werk was. Wanneer hulle saans by die huis kom, was daar dan geen water nie.

Die gebrek aan vervoer maak dit vir Verster en haar huishouding nog moeiliker om water in die hande te kry. Hulle is aangewese op bure en mense vir wie hulle tuinwerk doen om water te bekom. Hoewel hulle ’n watertenk het, word dit hoofsaaklik vir waswater en ander huishoudelike take gebruik, aangesien die water nie skoon genoeg is om te drink nie. Drinkwater moet met kanne aangery word.

'Die probleem is reeds by Tokologo-munisipaliteit aangemeld'

Verster is ook bekommerd oor die watermeters wat onlangs op die dorp geïnstalleer is. Sy sê hulle het R50 se water gekoop, wat volgens haar ongeveer 2 500 L verteenwoordig, maar dat die meter se lesing dae lank onveranderd gebly het.

“Die meter het op 2,29 KL gestaan, ondanks die feit dat daar geen water by ons huis was nie. Toe ek dit weer nagaan, was die krediet skielik weg.”

Die probleem is reeds by Tokologo-munisipaliteit aangemeld. ’n Munisipale amptenaar wat by watervoorsiening betrokke is, het ook haar woning besoek om ondersoek in te stel, maar volgens Verster was daar sedertdien geen verbetering nie.

Welkom-aftreeoord reeds langer as 30 dae sonder water | News Article

Inwoners is al 24 dae sonder water. Foto: iStock

Sy beweer dat sekere dele van Dealesville wel water ontvang, terwyl inwoners van twee strate telkens sonder water sit.

“Die probleme met die waterpype en onvoldoende waterdruk dra tot die situasie by. Die munisipaliteit het ons op 16 November meegedeel dat die waterdruk verhoog sou word, maar ons sit steeds sonder water.”

“Ons verstaan nie hoekom hulle watermeters in ’n dorp installeer waar daar nie water is nie.” Sy is veral bekommerd oor die finansiële implikasies vir huishoudings wat reeds met beperkte inkomste moet klaarkom. “Ek en my seun werk vir minimumloon. Hoe gaan ons daardie water bekostig as dit elke keer uitblaas?”

Baie inwoners het reeds boorgate waarop hulle kan staatmaak, maar sy is heeltemal van die munisipaliteit afhanklik. Die watertekort raak ook haar persoonlike omstandighede. Verster, wat ’n tuinboukundige is, sê: “My tuin is dood. Ek kan niks daaraan doen nie.”

Sy beskryf die situasie as uiters frustrerend en sê inwoners wil bloot weet wat die probleem is en wanneer hulle weer op ’n betroubare watertoevoer kan staatmaak.

Die DA in Tokologo het die munisipale bestuurder en die tegniese departement skriftelik gevra om watervoorsiening aan inwoners van Dealesville, Tswaraganang en Dikgalope dringend te herstel. 

Genoeg water in reservoirs

Hoewel daar glo genoeg water in die reservoirs is, bereik dit nie die gemeenskappe nie, sê Amanda Luyt, DA-raadslidkandidaat in Tokologo. Sy sê kalkneerslae in pypleidings en probleme met die installering van nuwe voorafbetaalde watermeters dra tot die waterkrisis by.

Die party vra die munisipaliteit om dié probleme dringend op te los, inwoners van ’n duidelike aksieplan te voorsien en hulle gereeld oor vordering in te lig totdat watervoorsiening ten volle herstel is. “Ons gemeenskappe het oplossings nodig, nie verskonings nie,” sê Luyt.

OFM Nuus het Tokologo om kommentaar genader.

OFM Nuus/Charne van der Merwe sm

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.