On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

‘Gestremdheid gaan my nie onderkry nie’ – Riemlander

───   SUSAN MARÉ 13:29 Thu, 19 Nov 2026

‘Gestremdheid gaan my nie onderkry nie’ – Riemlander | News Article
Christi Odendaal aan die skilder tussen die Oos-Vrystaatse berge. Foto verskaf

Gestremdheid het haar nog nie ondergekry nie en sy is vasbeslote dat dit ook nie sal nie.

Sy moes al baie uitdagings oorkom, maar pak elke dag met optimisme aan – soos ’n oopgekelkte blom in ’n sonneblomland. So vertel Christi Odendaal (42) waar sy haar kunsstalletjie van haar elektriese skoetertjie af bedryf op die terrein van die J.A. Malherbe Primêre Skool op Petrus Steyn.

Dié skool het onlangs sy 30ste bestaansjaar gevier en haar stalletjie was deel van die vieringe. Christi is op Odendaalsrus gebore en het kleintyd gedink dis waarom haar van Odendaal is. Sy woon egter al jare op Petrus Steyn by haar ma, Magda, en wil nêrens anders wees as tussen haar hartsmense en vriende nie.

Christi is gestremd gebore en kon eers ná groot operasies leer loop. Sy hakkel steeds, maar het lank reeds die moeilike letter “r” oorwin. Volgens haar dokter was haar beengroei nie na wense nie en sy het gesukkel om haar balans te behou.

Christi Odendaal wys van haar werk. Foto verskaf

Van st. 4 tot 6 het sy operasies ondergaan om haar aankapknieë reg te stel, haar hakskeensenings te verleng en haar voetbrûe te herbou. Hoewel dit bitter seer was, het sy gelukkig ’n hoë pyndrempel.

Sy het geleer om haar nie te steur aan ander mense se ongemak oor haar gestremdheid nie. Voorheen het seine van haar brein na haar spiere nie altyd goed deurgekom nie. Trappe en ongelyke of gladde oppervlakke was uitdagings.

Sy is afhanklik van haar vierwielbromponie, wat sy Mosterdsaadjie noem: “Ek glo met die geloof van ’n mosterdsaadjie kan ek berge versit, al is ek gestremd.” Haar Honda-motor is spesiaal vir haar omgebou. Sy ry alleen na Bethlehem en het al Vanderbijlpark en Pretoria besoek.

’n Skildery van Christi Odendaal. Foto verskaf

Sittend is sy meer suksesvol in wat sy doen, veral wanneer sy skilder. Bak en kook is uit, maar sy help graag met kosvoorbereiding.

“Ek is geleer om eers drie keer self iets te probeer voordat ek hulp vra. ‘Jannie Jammerkry’ werk vir niemand nie, het my ma my geleer. Dit is wel groot beplanning as ek iewers heen wil gaan, maar met Jesus aan my sy kry ek die nodige krag en wysheid. Ouer word is swakker word, maar dit maak my net meer oplettend.”

Ná haar laerskooljare op Petrus Steyn is sy na die Nuwe Hoop Skool in Pretoria. Sy het aan die Maluti-VOO-kollege op Bethlehem haar N6-eksamen in bestuursadministrasie geslaag. Sy was by verskeie ondernemings werksaam, asook by die Hoërskool Retief op Kestell toe Abrie Beukes skoolhoof was.

Tydens haar studie het sy in die koshuis van Maluti-Hooglandskool loseer en sy praat met lof van die destydse skoolhoof en koshuisvader, Piet Smith. Sy onthou ook die onderwyser John Cordier, wat altyd vol humor en pret was.


Op Kestell het sy die fyner besonderhede van teken- en inkleurkuns op YouTube bestudeer. Op Petrus Steyn het haar vriendin se ma haar kunstalente raakgesien en vir haar begin klas gee. Woensdae is dit gewoonlik ’n gekuier rondom kuns. Dis hier waar sy leer skilder het.

Sy maak haar eie skilderborde, versier boekmerkies met Bybelversies, verf prente op versoek, maak kaartjies volgens kliënte se behoeftes en verf die buiteblaaie van notaboeke.

“As ek ’n mooi prent op die internet sien, laai ek dit af en bêre dit op my selfoon. Dan gebruik ek die buitelyne van die prent en begin my hart uitverf.

“Ek kyk ook na die mooi waarvan mense om my hou. My vriendin, Tanja van Rensburg, hou baie van skryf en dan verf ek die buiteblaaie van haar notaboeke. Wanneer my kunsonderwyser, Reneé Bester, ook van Petrus Steyn, my nie kan help nie, vra ek vir ChatGPT watter verfkleure die beste sal wees, of om die stappe te verduidelik.

Sy is afhanklik van haar vierwielbromponie, wat sy Mosterdsaadjie noem. Foto verskaf

“As ons Bybelstudie by die kerk het, spat die verf behoorlik. Ons noem die byeenkoms ‘Flawless’ en teken en verf graag Bybelse temas. Ek geniet dit verskriklik baie.”

Haar raad aan kinders en ander mense wat graag wil teken en skilder, is om te begin, gereeld te oefen, raad te vra en ’n kunsonderwyser te kry. ’n Mens leer baie met verloop van tyd. Op die koue Petrus Steyn neem olieverf langer om droog te word, terwyl waterverfkleure maklik meng.

Christi beskryf haarself as ywerig, lojaal en liefdevol. Sy geniet die samesyn met medegelowiges in die Fellowship-kerk op die dorp. Sy ry en fliek graag saam met haar hartsmense, help met administrasie, uitpak en sorteer, of is sommer iemand se “derde hand” of “oor”.

Christi se begeerte is om altyd na die Here op te kyk en son en positiwiteit uit te straal. Foto verskaf

Sy is dankbaar vir liggaamsfunksies wat goed werk, soos haar gehoor, wat normaal is. Sy sukkel om weens haar beperkings werk te kry en wens dit kon anders gewees het. Christi lag en sê sy beskou haarself as “normaal met ’n kinkel in die kabel”.

“As gestremde lewe ek nie om af te kyk nie. My begeerte is om altyd na die Here op te kyk en son en positiwiteit uit te straal – soos ’n sonneblom. Ek is nie alleen nie. Hartsmense omring my – van wie die belangrikste natuurlik Jesus Christus is.

“Ek kan my die lewe sonder Hom nie voorstel nie.”

OFM Nuus/Susan Maré cvs

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.