On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Op 100 kyk Pauline steeds rugby en krieket

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:35 Fri, 20 Nov 2026

Op 100 kyk Pauline steeds rugby en krieket | News Article
Pauline van Niekerk vier haar 100ste verjaardag in die Reddersrus-tehuis in Reddersburg. Foto: Charne van der Merwe

Van ’n tyd waarin kinders nog met ossewaens piekniek toe gery het, tot die maanlanding en ’n wêreldoorlog, ’n bejaarde van die Vrystaat het ’n eeu se geskiedenis eerstehands beleef.

Pauline van Niekerk vier Vrydag (20/11) haar 100ste verjaardag in die Reddersrus-tehuis in Reddersburg, waar sy die afgelope vier jaar woon. Dié ma, ouma, oumagrootjie en voormalige lid van die Suid-Afrikaanse Lugmag bereik hierdie besonderse mylpaal met groot dankbaarheid.

“Ek het eintlik regtig ’n baie vol lewe gehad,” vertel sy aan OFM Nuus. Netjies aangetrek en mooi versorg sit sy in haar kamer by die ouetehuis en verduidelik dat ’n mens nooit moet ophou moeite doen met jouself nie. “Jy moenie jouself laat gaan nie. Die oomblik as jy jouself laat gaan, is dit asof jy ook agteruitgaan.” 

Pauline van Niekerk en haar seun, Theo, het op Herinneringsdag ’n krans gaan lê. Foto verskaf

Haar herinneringe strek oor ’n tydperk waarin die wêreld ingrypend verander het, maar dit is veral die klein oomblikke uit haar jonger dae wat steeds helder in haar geheue leef. As Sondagskoolkind het sy met ’n ossewa na die naaste plaas gery vir pieknieks. Sy het ook die maanlanding en verskeie oorloë deur die jare beleef, iets wat sy as ’n besondere voorreg beskou.

Haar lewensverhaal het in Thaba Nchu begin. Sy was elf jaar oud toe haar gesin na Bloemfontein verhuis, waar sy aan die Hoërskool Sentraal skoolgegaan het. Haar belangstelling in die weermag het egter reeds op ’n jong ouderdom begin en vertel dit was vir haar baie fassinerend.

Pauline van Niekerk toe sy in die 1940’s as korporaal gedien het in die lugmag. Foto verskaf

Op net 17 het sy op eie inisiatief by die lugmag aangesluit. Sy het haar aansoek by die destydse hoofkantoor in Bloemfontein ingedien en is kort daarna Pretoria gestuur, waar sy tydens die Tweede Wêreldoorlog administratiewe werk in die Suid-Afrikaanse Lugmag se hoofkantoor in Potgieterstraat verrig het.

Sy het van 1944 tot 1946 as sekretaresse gewerk. Hoewel sy nooit bang was nie, het die oorlog haar met hartseer herinneringe gelaat, veral aan die jong mense wat hul lewe verloor het.

“Ek het baie vertroue gehad in ons weermagmense. Wat vir my baie hartseer was, is dat daar so baie jong mense dood is in die oorlog. Agtien jaar oud – dis baie hartseer,” vertel sy met trane in haar oë.


Sy onthou haar tyd in die lugmag as ’n besondere ervaring en sê dit was vir haar ’n voorreg om deel daarvan te kon wees. Ná haar ontslag het sy besluit om na Durban te gaan. Dit was daar waar sy haar toekomstige man, Ampie van Niekerk, ontmoet het. ’n Boer wat familie in die kusstad besoek het.

Die twee is getroud en het hulle in die Excelsior-distrik gevestig, waar hulle ’n gemengde boerdery bedryf het. Die plaaslewe het ’n groot deel van Pauline se lewe gevorm. Saam met haar man het hulle met skape en beeste geboer, ’n melkery bedryf, asook koring en mielies verbou.

Plaaslewe

Sy was egter veel meer as net ’n boervrou. Sy het self haar hande vuilgemaak, ’n groot tuin onderhou, seep gekook en selfs geleer om skape met ’n skeermasjien te skeer – iets waaroor haar man aanvanklik nie baie gelukkig was nie. “Die plaaslewe was baie, baie lekker. Dit het soveel vryheid gehad.”

Sy weet ook dat ’n lang lewe nie noodwendig ’n maklike lewe beteken nie. Die boerdery het sy uitdagings gehad, met droogtes en moeilike tye. Sy en Ampie het vier kinders gehad, wat een van die grootste voorregte van haar lewe was. Hy is op 57-jarige ouderdom, ná ongeveer drie dekades se huwelik, aan nierversaking oorlede.

‘Dit is vir my ’n voorreg dat hulle nou hier is’

Vandag is haar kinders oor verskillende wêrelddele versprei: Barbara Gaudin woon in Bloemfontein, Oubaas van Niekerk in Kimberley, Elsa Mitchely in Oman en Theo van Niekerk in Australië. Sy het ook elf kleinkinders en 20 agterkleinkinders.

Van haar kinders en kleinkinders het spesiaal van oorsee gekom om haar 100ste verjaardag saam met haar te vier. “Dit is vir my ’n voorreg dat hulle elke jaar vir my kom kuier en dat hulle nou hier is,” sê sy.

Een ding wat haar familie egter goed weet, is dat sport nog altyd ’n belangrike plek in Pauline se lewe gehad het. Haar liefde vir rugby het reeds as klein meisie begin toe haar oom haar elke Saterdag na plaaslike rugbywedstryde geneem het.


Sy het later gereeld rugby by Springbokpark in Bloemfontein gaan kyk, waar die huidige Mimosa Mall nou geleë is. Sy is tot vandag toe ’n lojale Cheetahs-ondersteuner. Dié liefde vir sport het nooit verdwyn nie. Sy kyk steeds rugby en krieket op televisie en wanneer daar nie sport is nie, is die radio haar geselskap.

Lizelle Bekker, bestuurder van die Reddersrus-tehuis, beskryf Pauline as een van die dierbaarste mense wat sy al ontmoet het. “Sy is regtig die dierbaarste mens wat daar is. Sy is so tevrede met alles. Sy gee ons glad nie moeilikheid nie. Sy kan kwaai raak as sy moet, maar sy doen gewoonlik nie. Sy is regtig die maklikste inwoner wat daar is en ons is verskriklik lief vir tannie Pauline.” 

Lizelle Bekker, bestuurder van die Reddersrus-tehuis.

Sy is op 1 Augustus 2023 by die Reddersrus-tehuis opgeneem en het aanvanklik in een van die woonstelle gewoon, waar sy steeds redelik onafhanklik was. Op 2 Februarie 2024, toe sy 98 jaar oud was, is sy na die versorgingseenheid verskuif.

Bekker sê Pauline se dankbaarheid en vriendelikheid is juis wat haar so besonders maak en dat sy ’n voorbeeld vir die ander inwoners en personeel is. “Sy is ongelooflik dankbaar vir alles. Haar vriendelikheid en liefde straal uit haar uit en sy probeer altyd help waar sy kan.”

As daar een ding is wat telkens in Pauline se gesprek terugkeer, is dit haar geloof. Sy skryf nie haar lang lewe aan ’n geheim of ’n spesiale resep toe nie, maar aan haar geloof in God.

‘Ek is so dankbaar daarvoor’

“Ek dink jy moet maar net in die Here glo, want dis Hy wat my al die jare gedra het. Die Here was baie goed vir my. Dis nie altyd maanskyn en rose as jy boer nie, maar die Here het my deur al die jare gedra. Ek is so dankbaar daarvoor.”

Selfs die gedagte dat sy eendag 100 sou word, was nie iets wat sy voorsien het nie. “Nooit in my lewe het ek gedink ek sou só oud word nie. Ek weet nie hoe ek hier gekom het nie,” sê sy laggend.

Vir haar 100ste verjaardag is groot feesvieringe beplan. ’n Teepartytjie word by die tehuis gehou, waar ou vriende van die plaas en Bloemfontein saam met haar sal feesvier. Daarna gaan die familie in Bloemfontein by ’n gastehuis saamkuier en braai.

Die afgelope dae was ook reeds besonder spesiaal vir Pauline. Sy het onlangs saam met Theo, wat uit Australië gekom het, aan die Herinneringsdag-seremonie by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein deelgeneem en ’n krans gelê.

“Vir iemand wat self tydens die Tweede Wêreldoorlog in die lugmag gedien het, was dit ’n besondere oomblik. Dit was vir my so ’n voorreg om ’n krans te lê daar.” Wanneer sy nou op haar honderd jaar terugkyk, is daar nie een groot geheim wat sy met jonger geslagte wil deel nie? Haar raad is eenvoudig: vertrou op die Here, wees dankbaar vir wat jy het en waardeer die mense wat jou lewe verryk.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.