Inspiration
Living Limitless: Blinde NWU student en gidshond het groot planne─── 11:32 Fri, 23 Dec 2022
Die gidshond, Vogue, het nie net die NWU-gegradueerde Cornelle Leach gehelp om van een plek na 'n ander te kom nie, maar het haar lewe ten goede verander. Die twee beste vriende het vroeër vanjaar saam graad gevang, maar hulle is nog nie klaar nie.
Mid-Morning Magic se Yolanda Maartens gesels met Cornelle Leach en haar gidshond, Vogue, oor haar lewensreis as 'n blinde persoon en hoe sy die wêreld van toerisme vir mense wat met gestremdhede leef, wil verander.

“Ons het ‘n baie spesiale verhouding. Vogue is meer as net ‘n troeteldier vir my, sy is meer as net ‘n gidshond. Sy is my lewensmaat. Sy oefen saam met my, sy swot saam met my, sy skryf eksamen saam met my, sy gaan gradeplegtigheid toe saam met my en sy gaan ook saam met my trou," vertel Cornelle in 'n onderhoud.
In April 2022 het die twee onafskeidbare vriende saam die verhoog by die Noordwes-Universiteit se Potch-kampus betree om "hul" honneursgraad in toerismebestuur te ontvang. Cornelle is tans besig met haar meestersgraad in toerisme en beoog om die toerismebedryf met nuwe idees te betree om mense met gestremdhede te help.

Een keer 'n maand reik die OFM Familiefokus uit na organisasies wat met mense, oud en jonk, met gestremdhede in ons streek werk. As jy weet van so 'n organisasie in Sentraal SA, kontak Yolanda via e-pos yolandam@ofm.co.za.
