Inspiration
Ma, sorg heel eerste vir jouself─── 10:42 Tue, 16 May 2023

As ’n ma voel ’n mens dikwels jy is die een wat ter wille van die hele gesin sterk moet staan. Die steunpilaar. Die rots.
Maar soos die daaglikse omstandighede ál moeiliker raak, kan dit dalk vir jou as ma voel of jy sukkel om kop bo water te hou. Veral met die aanhoudende beurtkrag en uiters moeilike ekonomiese tye. Hoe nou?
Dr. Lizelle Nel, ’n kinder-en-gesinterapeut van Bloemfontein, sê ’n ma moet doen wat sy kan, waar sy is, met dit wat sy het. “Ek glo vroue het die mag om al die verskillende rolle te vervul, mits hulle dit met verantwoordelikheid doen.”
Sy sê balans is ’n vloekwoord wat professionele mense uitgedink het om geld mee te maak. “Maar natuurlik moet elke ma streef na ’n mate van ekwilibrium in haar lewe. Nie net as gevolg van al die rolle in die gesin nie, maar ook ter wille daarvan.”
Haar raad aan ma’s is om jou naaste lief te hê net soos jouself. “Dit beteken ma’s moet hulself prioritiseer, sonder skuldgevoelens.”
‘Leer die kuns aan om ontslae te raak van skuldgevoelens’
Nel sê die gesegde dat ’n mens nie uit ’n leë koppie kan tap nie, is waar. “Daarom moet ma’s beheer neem en keuses uitoefen om in hulself ook te belê en ook ’n goeie ondersteuningsnetwerk in stand hou wat haar arms kan sterk hou.”
Voorts moet ma’s ook die kuns aanleer om ontslae te raak van al hulle skuldgevoelens en die vooropgestelde idees van wat “moet”.
"Maak seker jy gun jouself genoeg goeie dinge.
“Ons kry die goeie hormone wanneer ons in die natuur beweeg, wanneer ons tussen mense is wat waarde toevoeg tot ons lewe, ’n stokperdjie beoefen of doelbewus besig is om die lewe te kies.”
Daar is egter tye wanneer ’n ma moet weet sy moet professionele hulp ontbied. Nel sê dit sluit in wanneer jy baie sleg slaap of genoeg slaap, maar moeg bly. Jy is dalk aanhoudend byterig teenoor die mense wat die naaste aan jou is.
Soms is individuele bemagtiging of terapie nodig, soms is ’n kursus ’n goeie idee, soms help selfhelp-potgooie vir inspirasie.
Moenie huiwer om hulp te vra nie.