On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 Classic Sundays with Tony
Listen Live Streams

Inspiration

My hart lê in ’n Suid-Vrystaatse vakansie

───   14:42 Wed, 17 Jan 2024

My hart lê in ’n Suid-Vrystaatse vakansie   | News Article
Die Suid-Vrystaat. Foto: Facebook/Louw Serfontein

“Elke boer kniel dankbaar in gebed, verlig dat God uiteindelik hulle gebed verhoor het.”

Begin Desember was die Vrystaatse platteland droog en vaal. Elke boer wat jy raakgeloop het, se kop het onderstebo gehang en die mismoedigheid was duidelik sigbaar in bekommerde oë.

Die jaar was taai: Veediefstal en veldbrande het hul tol geëis. Die boere het swaargetrek. Om nie eens te praat van beurtkrag en roofdiere nie. Die dorp het gebuk gegaan onder erge watertekorte en rioolbesoedeling.

Die Suid-Vrystaat kan prentjiemooi wees. Foto: Serijke Grobler

Op die plattelandse dorpies het armoede en ellende ’n groot invloed op die ekonomie. Die meeste mense in die gemeenskap leef van Sassa-vergoeding. Ruim 85% van die gemeenskap is werkloos. Vakansietye bring ook nie veel meer hoop nie; dis maar bloot familie wat kom afpak vir ’n lekker skaapboud op Kersdag.

‘’n Boer wat in die Vrystaat woon, kan vir eers nie enige grense oorsteek nie’

15 Desember breek aan en ’n gevoel van feestelikheid neem besit van die dorp. Boere gee hulle werkers verlof en is dankbaar dat hulle self ook ’n bietjie sal kan rus, al kan niemand met vakansie gaan nie, want ’n boer wat in die Vrystaat woon, kan vir eers nie enige grense oorsteek nie. Die risiko van veediefstal en veldbrande is eenvoudig net té groot.

Dit is ook die besigste tyd van die jaar vir ondernemings, soos gastehuise en gasteplase, wat gereed is om besoekers te ontvang. Almal ondersteun mekaar en werk saam om elke besoeker welkom en gemaklik te laat voel.

’n Kinderbegraafplaas vir ongedoopte kinders uit die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) by Springfontein in die Suid-Vrystaat. Foto: Serijke Grobler

Almal bid vir reën. Sodra die eerste somerreën geval het, word die Vrystaatse platteland lowergroen en die veldblomme wys hulle mooi kleure – die aarde voel skoon, want al sy stof is afgewas deur elke druppel van genade wat uit die God se hand ontvang is. Elke boer kniel dankbaar in gebed, verlig dat God uiteindelik hulle gebed verhoor het. ’n Gevoel van verligting, dankbaarheid en hoop spoel oor almal.

‘Daar is niks lekkerder as ’n braaivleisvuur in die buitelug’

Kaalvoet baljaar in die modder en modderkoekies bak bly elke kind se droom. Dankie tog dit is bewaarheid. “Kom ons swem in die dam!” Laggende gesiggies terwyl hulle in die water plons. Toeriste besoek die Vrystaatse platteland om die buitelug, natuur, sonsondergang en sterrehemel te beleef. Daar is niks lekkerder as ’n braaivleisvuur in die buitelug terwyl sonbesies die veld vol roep nie.

En jou enigste lig? Die glorie van die Melkweg wat bo jou skitter. Elke dorpie is uniek en ryk aan die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog. Die lyding van elke boer, ma en kind, diep in die Vrystaatse grond verewig.

Oorsese toeriste stop by die slaghuis op die hoek om ook te proe hoe dié biltong waarvan almal praat, nou eintlik smaak. ’n Vakansie in die Vrystaat hou ’n mens nederig. Dit hou ons knieë naby aan die grond, want deur God se genade het ons die voorreg gehad om nog ’n vakansie saam met ons geliefdes naby aan God se skepping te kon ervaar.

OFM Nuus/Serijke Grobler mc

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.