On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Laurika
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Inspiration

Toe ons nog Vrystaatse plaaskinders was

───   14:14 Wed, 31 Jan 2024

Toe ons nog Vrystaatse plaaskinders was | News Article
As kind het jy kaalvoet geloop en in die modder gespeel. Foto: Facebook/Pure Plaas

“Jy het geweet ’n pak slae wag vir jou as jy durf ná donker by die huis kom.”

Wanneer die aandklok gelui het, was die straatligte af. 

Op die plaas gaan kruip die son agter die koppies weg en die maan knipoog vir die sterre. Dis tyd om huiswaarts te keer… En nee, jou ma het nie jou selfoon gebel nie, want jy het nie een gehad nie. Maar jy het geweet ’n pak slae wag vir jou as jy durf ná donker by die huis kom.

‘Hou op tande tel!’

In die verlede het die kinders buite gespeel; hulle het nie televisie gekyk en videospeletjies gespeel nie. Daar was nie slimfone en sosiale media nie. Kinders het hulleself vermaak, soos dit hoort. Kreatiwiteit en verbeeldingsreise was ’n groot noodsaaklikheid. ’n Speletjie dink nie homself uit nie, en jy kan ook net so lank boom klim!

Ouers het vasgestaan by die opdragte: “Gaan speel, man,” of: “Hou op tande tel!”

Om tussen die grootmense te sit was onwettig en ’n groot oortreding wat jy geweet het jy nie moet beproef nie.

Plase op die Vrystaatse platteland het eers in 1988 elektrisiteit gekry. Foto: Facebook

Dié wat die voorreg gehad het om op plase groot te word, het nie elektrisiteit gehad nie. Die enjin is eers van ses tot agt saans aangeskakel. So, daar was net tyd vir een kinderstorie voordat Pa die nuus wou kyk. Die eerste teken van elektrisiteit op plase op die Vrystaatse platteland was eers in 1988.

As kinders nie geëet het wat ma gekook het nie, dan het hulle nie kos gekry nie. “Ek eet nie dit nie of dat nie,” is nooit geuiter nie, want dan “tender jy vir gips”. Ná elke ete moes jou bord blink. Daar was nie sprake van kos mors nie. Het jy ooit jou ertjies onder jou skorsie se skil probeer wegsteek om te bewys dat jy al jou groente geëet het?

“Probeer is die beste geweer,” maar my poging was maar altyd onsuksesvol. “Jy sal hier sit tot jou bord leeg is!”

‘Jy het kaalvoet geloop en in die modder gespeel’

Ons hoor gereeld dat mense verwys na “die goeie ou dae”, of vra: “Kan jy onthou?”

Wat het jou kinderdae vir jou beteken? Het jy die lewe sorgeloos geniet en elke oomblik positief aangegryp? Geen verantwoordelikheid en stres het by jou gespook nie?

Die antwoord is vir seker: “Ja!”

As kind het jy gelag dat jou maag pyn. Jy het kaalvoet geloop en in die modder gespeel. As jy per ongeluk kaalvoet in ’n veld vol dorings beland het, was daar nie tyd vir trane nie. Jy het dit maar uitgetrek en aanbeweeg. Jy het water uit ’n tuinslang gedrink en oorleef.

Gee jou kind ook die kans om sy kinderlewe te geniet. Foto: Facebook/Buite Plaas

Respek vir ouer mense was ’n natuurlike verskynsel en terugpraat was nie ’n opsie nie. Vuil taal is nie geduld nie, anders sou jou mond met blouseep uitgewas word.

Tye het verander, mense het verander… die wêreld het verander.

Mense het hulle waardes en beginsels in die drein afgespoel. Ons lees daagliks van kindergeweld, kindermishandeling, kinderhandel, teistering op sosiale media en boelies. En dis maar net ’n druppel aan die emmer van boosheid.

‘Die armes word armer en die rykes word ryker’

Mense het selfsugtig geword. Sonder geld, status en mag word jy as ’n “nobody” gesien. Die armes word armer en die rykes word ryker. Waar laat dit die middelklas? Wel, so tussen die boom en die bas…

Hoe kan jy jou kind beskerm in ’n wêreld wat so wreed geword het?

As ouer hou jy jou kind dalk té naby en dit kan jou kind versmoor. Jy wil net die beste vir hulle hê, maar daardie begrip is vir hulle ongekend. Rebelsheid tree vinnig in, en voor jy jou kom kry, is jou kind ’n vreemdeling wat voor jou staan.

‘Plaas jou juweel in God se kluis’

Gee jou kind ruimte om besluite te neem en om dan verantwoordelikheid vir hulle besluite te aanvaar. Laat los en vertrou op God en sy genade. Vertrou dat jou kind die regte besluite sal neem, want jy as ouer het jou alles gegee.

Gee jou kind die kans om sy/haar kinderlewe ook te geniet, want jy het die voorreg gehad… Plaas jou juweel in God se kluis, want Hy sal hulle bewaar en veilig hou.

OFM Nuus/Serijke Grobler cg/mc

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.