On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Pulane
Listen Live Streams

Inspiration

Besonderse storie oor ’n seun en sy hond raak harte aan

───   KAREN VAN DER BERG 10:18 Fri, 23 Feb 2024

Besonderse storie oor ’n seun en sy hond raak harte aan | News Article
Boebels in haar kruiwa uitgevoer met skaapvel. Foto: Tania Smit

“Mamma, hoe sal jy voel as ons jou uitsit net omdat jou bene nie meer lekker werk nie?”

’n Aangrypende storie oor die besonderse band tussen ’n seun en sy hond is onlangs deur ’n skrywer van die Karoo op sosiale media geplaas en het soos ’n veldbrand versprei en harte oor die land heen aangeraak.

Tania Smit, van Oudtshoorn, die eienaar van die Facebook-blad Hekelwoorde, het die storie gedeel oor haar seun Adrian de Beer (22), of Adi soos sy hom noem, se jare lange verhouding met sy labrador, Boebels. Sy sê Boebels is reeds ongeveer twee jaar gelede dood, maar Adi was nou eers gereed dat sy die storie met mense kan deel. Hy werk deesdae in Amerika.

Adi de Beer en sy labrador, Boebels, was onafskeidbaar. Foto: Tania Smit

“Ek wou ook graag die storie gebruik om my seun te eer vir sy besonderse band met Boebels. En dit is ook ’n manier om hulde aan Boebels te bring.” Sy hoop ook dit kan mense leer oor die waardigheid waarmee die oues van dae in hul laaste jare versorg kan word.

Sy vertel Adi het Boebels gekry toe hy ses jaar oud was. “Sy was so opvreetbaar. Met ’n soet asem van stoute tandjies, toegedraai in ’n romerige kleed van liefde. Boebels was Adi se hele wêreld.”

‘Sy was Adi se kindgenoot‘

Adi en Boebels was onafskeidbaar. “Wanneer hy ná skool onder die pruimboom gelê het, was Boebels daar, of op die bank voor die TV en op die bed, langs hom. Sy was Adi se swemgenoot, sy speelgenoot en sy kindgenoot.”

Tania sê Adi het ouer geword en Boebels vetter en óók ouer. “Teen die somer van Adi se 17de verjaardag moes die buurman eendag vir Boebels van die swembadtrap af kom red omdat sy op haar eie gaan swem het en nie meer kon uitklim nie.”

Tania sê sy het Adi begin por: Dis dalk tyd om haar veearts toe te neem. Hy het geweier en net gevra: “Mamma, hoe sal jy voel as ons jou uitsit net omdat jou bene nie meer lekker werk nie?” Sy het besef Adi het meer tyd nodig, en Boebels se stert het nog tevrede geswaai.

Boebels was baie gelukkig in haar kruiwa. Foto: Tania Smit

In Adi se matriekjaar het hy een middag by die huis gekom, die kruiwa met die skaapvel uitgevoer en vir Boebels ingelaai – met ’n bak water en ’n sakkie hondelekkers. Die kruiwa het nie eens bande gehad nie, maar Adi het met sy geboë lang lyf vir Boebels op ysterwiele deur die strate tot by die vliegveldjie gestoot waarheen hulle altyd gestap het. En so het hy vir Boebels rondgestoot. In die kruiwa.

‘Tyd vir Boebels se laaste reis’

’n Maand ná sy 20ste verjaarsdag, twee weke voor hy universiteit toe moes gaan, was hy gereed om haar te neem. “Hy het met opgeswelde oë vir oulaas saam met haar om die blok gaan stap. Dit was uiteindelik tyd vir Boebels se laaste reis.”

• Die storie verskyn ook in haar derde bundel, Boek van Waarwoorde en Wenswoorde.

OFM Nuus/Karen van der Berg dg/mc

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.