On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Inspiration

Potchefstromer trap Bloubergstrand toe vir viervoetige vriende

───   KAREN VAN DER BERG 14:38 Mon, 18 Mar 2024

Potchefstromer trap Bloubergstrand toe vir viervoetige vriende | News Article
Shaun Leach se fietstoer het in die huidige hittetoestande begin.

“Oral waar ek gery het, was die mense so vriendelik. Ek bly net verstom oor mense se goedhartigheid en vriendelikheid op die pad.”

Hy is nog net twee dae op die pad met sy fiets, maar is reeds verstom oor mense se goedhartigheid.

Shaun Leach (40), eienaar van Le Tour Cycles in Potchefstroom, het Saterdag ’n fietstoer van 1 600 km van Vanderbijlpark tot in Bloubergstrand begin. Hy doen dit op sy eie om geld en skenkings in te samel vir die dierewelsynsorganisasie PAWS.

Hy sê die wegtrek en eerste dag het goed verloop, hoewel hy die hitte onderskat het. “Dit was moeilike omstandighede om in te ry. Benewens die hitte was daar ook heelpad ’n wind van voor.” Hy moes 130 km aflê, maar 20 km voor die eerste skof se einde het sy water opgeraak.

Leach sê hy ry die hele pad net grondpaaie en beoog om teen Sondag klaar te maak. Foto verskaf

“Die hitte was regtig ondraaglik,” vertel Leach. Gelukkig het ’n boer langs die pad gesien hy kry swaar en uit sy pad uit gegaan om vir hom water te bring. Hy gaan nou sorg dat hy daagliks genoeg water saamneem.

“Oral waar ek gery het, was die mense so vriendelik. Ek bly net verstom oor mense se goedhartigheid en vriendelikheid op die pad. Dit is iets wat jy net op jou fiets kan beleef.”

Hy het Saterdagaand (16/03) op Ventersburg oornag en Sondag (17/03) tot in Bloemfontein gery (212 km). Maandag (18/03) ry hy van Bloemfontein tot by die Gariepdam, weer sowat 212 km.

Hy bly verstom oor mense se goedhartigheid en vriendelikheid op die pad. Foto verskaf

Leach sê hy ry heelpad grondpad en beoog om teen Sondag klaar te maak.

“Ek gaan ry net grondpad en sien vreeslik uit daarna om die skoonheid van die land te beleef en die wonderlike mense langs die pad te ontmoet.”

Een van die redes waarom hy besluit het om geld vir PAWS in te samel, is om vir die organisasies dankie te sê vir die wonderlike werk wat hulle doen.

• Shaun het ’n opsporingstelsel en belangstellendes kan sy reis op Le Tour Cycles se Facebook-blad volg. Daar is ook inligting oor hoe mense kan bydra tot PAWS.

OFM Nuus/Karen van der Berg cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.