On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Inspiration

Bloemfonteiner vermaak talle op TikTok

───   HEIDRÈ MALGAS 12:37 Tue, 19 Mar 2024

Bloemfonteiner vermaak talle op TikTok  | News Article
Noël Venter (54) het vinnig meer as 10,000 volgelinge op TikTok gekry. Foto verskaf

“Ek probeer minstens een keer per week motiveringsvideo’s plaas. Ek glo in mense en min dinge maak my gelukkiger as om te sien dat mense weer in hulself glo.”

’n Man van Bloemfontein het vinnig naam gemaak op die sosialemediaplatform TikTok, waar hy mense vermaak met sy kosresensies, gimvideo’s en motiveringsvideo’s.

Noël Venter (54) het vinnig meer as 10,000 volgelinge op TikTok gekry wat mal is oor sy video’s en elke dag net meer van sy skeppings soek.

“Ek het lankal gewonder hoe ek soveel moontlik mense relatief maklik kan bereik. Toe stel my seun, Arno, TikTok verlede jaar aan my voor. Ek het … geen idee gehad hoe die platform werk nie, en dit was allesbehalwe maklik om mense te bereik,” vertel Venter.

@noelsouthafrica #inspiredawesomelife #SelfCare #food #livinginsouthafrica ? original sound - Noël

Hy sê die kosresensies het begin deur kos te evalueer waarvan hy hou, en nou volg hy waarvoor sy volgelinge vra.

“Ek probeer minstens een keer per week motiveringsvideo’s plaas. Ek glo in mense en min dinge maak my gelukkiger as om te sien dat mense weer in hulself glo,” sê Venter.

Hy plaas ook minstens weekliks sy vordering in die gim. Hy sê al is dit stadig, bly dit vordering.

Sy beste raad aan mense bo 50 wat ook aktief wil wees, is: “Byt net vas, alles sal beter en makliker raak as jy net in jouself glo.”

Die kosse wat hy kies om te resenseer, is dié wat mense interessant sal vind en wat hy geniet, nie noodwendig wat sy volgelinge sal geniet nie.

“Ek het ’n lys saamgestel oor wat die volgelinge gevra het ek moet resenseer, en besluit dan daarvolgens. Aanvanklik het ek nie so ’n lys gehad nie; ek het net resensies gedoen van kosse waarvan ek gehou het,” sê hy.

Hy sê baie mense van sy ouderdom het hom laf gevind, maar die jonger mense het hom vinnig tuis laat voel.

Dit is swaar om sy gehoor se aandag te boei. ’n Mens moet vinnig by die punt kom, binne ’n sekonde of twee, anders verloor jy te veel van jou gehoor.

“Wees net konstant met wat jy doen. Jy sal self met idees vorendag kom of jou volgelinge sal sê wat hulle wil hê. Ek kommunikeer amper uurliks met my volgelinge. Hulle is immers die rede hoekom ek doen wat ek doen,” vertel Venter.

Hy hoop sy video’s sal mense gelukkig maak. Sy doel is ook om soveel moontlik mense te bereik en met elkeen te kommunikeer.

Noël se TikTok blad kan hier gevind word: https://vm.tiktok.com/ZMMhcYDaQ/

OFM Nuus/Heidrè Malgas cg


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.