Inspiration
Gewese Suid-Afrikaner dra Olimpiese fakkel in Frankryk vir kankerlyers─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:13 Fri, 07 Jun 2024

“Steyn was een van 11 000 fakkeldraers wat gekies is uit ’n Franse bevolking van 65 miljoen wat aan die seremonie op 12 Mei in Aix-en-Provence deelgeneem het.”
Haar ondersteuning en toewyding vir kinders in Suid-Afrika met kanker het so ’n groot uitwerking gehad dat sy as ’n Olimpiese fakkeldraer in Frankryk gekies is.
Al woon sy reeds 28 jaar in die buiteland – eers in België en nou in Frankryk – is Ronél Steyn (61), ’n gewese inwoner van die Oos-Vrystaat, steeds diep toegewyd aan kankerlyers in haar geboorteland.
‘Steyn was een van 11 000 fakkeldraers’
Sy het onlangs aan die Olimpiese fakkelaflos deelgeneem as ’n voorloper van die Olimpiese en Paralimpiese Spele 2024 in Frankryk, en het die fakkel spesifiek ten bate van kinders met kanker in Suid-Afrika gedra.
Steyn was een van 11 000 fakkeldraers wat gekies is uit ’n Franse bevolking van 65 miljoen wat aan die seremonie op 12 Mei in Aix-en-Provence deelgeneem het.
“Wat die seremonie spesiaal gemaak het, was dat ek my been ses dae voor die fakkelaflos gebreek het en ook vyf dae tevore geopereer is. Dit was ’n ongelooflike gevoel om die fakkel as ’n Suid-Afrikaner in Frankryk in ’n rolstoel te dra, maar nog meer spesiaal omdat ek dit gedoen het vir Brendan Myburg en al die ander kinders met kanker in Suid-Afrika.
“Dit is juis vanweë al die vrywillige werk wat ek vir kinders met kanker in Suid-Afrika doen dat ek gekies het om aan die fakkelaflos deel te neem.
“Om die fakkel te dra was ’n onvergeetlike ervaring, gevul met gemengde gevoelens van geluk en hartseer. Ek het die fakkel gedra vir al die onskuldige kinders wat kanker in die gesig staar, veral dié in Suid-Afrika.”
Brendan Myburg. Foto verskaf
Brendan (14), ’n kankerlyer van Bloemfontein, was ’n gesonde, sportiewe seun voor kanker vyf maande gelede by hom gediagnoseer is.
Steyn vertel hoe Brendan se linkerboarm einde 2023 begin seer word het. “Aanvanklik het almal gedink dis net spiere, maar in Januarie het sy fisioterapeut vermoed iets skort. X-strale en skanderings het gewys dat die boarmbeen weggevreet is. Na ’n biopsie deur die ortopediese chirurg is osteosarkoom by hom gediagnoseer.
‘Brendan moes dadelik met chemoterapie begin’
Gelukkig het die kanker toe nog nie versprei nie, maar Brendan moes dadelik met twaalf weke van chemoterapie begin. Hy is na Sandton Mediclinic vir die vervanging van sy bo-arm met ’n binneste titaniumprostese. Ná drie weke van herstel gaan hy voort met sy chemoterapie-behandeling.
“Hy is in sy laaste week van sy negende chemoterapie-siklus. As alles volgens plan verloop, sal hy teen die einde van Augustus klaar wees.”
Brendan Myburg van Bloemfontein moes dadelik met chemoterapie begin. Foto verskaf
Die uitwerking van kanker op Brendan se lewe is groot. “Hy mag nooit weer kontaksport speel nie en ook nie meer as 2 kg met daardie arm alleen optel nie. Hy is egter baie positief en sien daarna uit om nuwe sportsoorte te probeer om te sien waarin hy sal uitblink.
“Die Here is sy rots, en hy glo dat hierdie pad ten goede sal uitwerk,” sê Steyn. Sy het ook foto’s van Stehan Knuppe (6) en Zhara du Toit (12), twee ander kankerpasiënte, tydens die seremonie gedra.
‘Leukemie is in April by Stehan gediagnoseer’
Zhara se kanker is in remissie nadat longvlieskanker by haar gediagnoseer is. Leukemie is in April by Stehan gediagnoseer nadat hy twee jaar gelede vir die eerste keer met neuroblastoom gesukkel en in November 2022 in remissie was.
Steyn is sedert Mei 2023 ’n aktiewe ambassadeur van Cupcakes of Hope, ’n organisasie sonder winsoogmerk wat kinderkankervegters in Suid-Afrika ondersteun.
Longkanker is vroeër by Zhara du Toit gediagnoseer. Foto verskaf
Steyn is ook betrokke by Zhara se skapieprojek. “Zhara se grootste wens was dat elke kind in Suid-Afrika met kanker ’n skapie moet kry nadat haar tannie vir haar ’n gehekelde skapie gegee het voor haar eerste operasie.
“Ek en van my vriende in Suid-Afrika, asook mense in Frankryk, help om die skapies te hekel en brei. Ek het in Februarie 33 skapies by Zhara afgelewer, en ons het dit toe aan kinders met kanker uitgedeel, ek het ook een vir Brendan gestuur.”
Steyn is besig om ’n geldinsameling vir Stehan te reël, omdat die enigste lewensreddende chemoterapiemiddel wat hy benodig, teen R600 000 ingevoer moet word. Sy mediese fonds dek nie die onkoste nie.
Ronél Steyn en Stehan Knuppe. Foto verskaf
Vir haar volgende besoek aan Suid-Afrika beplan sy ook ’n groot geldinsameling vir kinderkankerlyers wat op 28 September op Mosselbaai gehou sal word.
OFM Nuus dg