On Now
Weekends 09:00 - 12:00
The Central SA Top 30 Pulane
NEXT: 12:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Laurika
Listen Live Streams

Inspiration

Vrystaatse bibberkoue skrik sanger op fiets nie af

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:50 Sat, 08 Jun 2024

Vrystaatse bibberkoue skrik sanger op fiets nie af | News Article
Die sanger Elvis Blue (links) en die OFM-omroeper Shandor Potgieter. Foto: Facebook-skermgreep.

“Liefdadigheid is die rede waarom Elvis Blue kans sien om op die koudste dae van die jaar deur die Vrystaat te ry – op ’n fiets van alle dinge.”

Blou van die koue? Nie Elvis Blue nie! Dié geliefde sanger en liedjieskrywer het op 1 Junie sy Elvis Blue Rides for School Fees-fietstoer van 1 500 km in George in die Suid-Kaap begin. Voordat hy in Nelspruit aankom, betyds vir die jaarlikse Innibos-kunstefees, gaan hy ook 10 km in slegs ’n Speedo-swembroekie aflê.

Elvis Blue sê dié groot avontuur en uitdaging is om ’n verskil in kinders se lewe te maak.

Die afgelope sewe dae het hy elke dag meer as 100 km afgelê. Op Vrydag (7/6) het Shandor Potgieter, OFM se Good Morning Breakfast-aanbieder, by hom aangesluit en saam het hulle ongeveer 102 km van Smithfield na Hobhouse gery. “Ten spyte van die winderige toestande is ons met pragtige natuurskoon omhels.”

Saterdag (8/6) ry Elvis Blue en Potgieter die ongeveer 109 km van Hobhouse na Ficksburg waarna die sanger reeds 950 km van sy liefdadigheidstoer afgelê het. Sondag ry hy en Potgieter na Bethlehem en Maandag na Vrede, wat sowat 280 km by hul afstand sal voeg.

Blue het al teen die sesde dag reeds R54 000 ingesamel. “Ek is dankbaar vir elke persoon wat ’n bydrae gemaak het.”  Hy sal ook 10 km in net sy Speedo moet ry nadat ’n groep mense van Pretoria ’n stewige R100 000-skenking gemaak het.

“Ek weier om in 'n wêreld te leef waar kinders met leë mae skool toe moet gaan en iets moet probeer leer,” sê hy. “Ek weier om net rond te sit met die wete dat daar kinders is wat nie potlode, penne, boeke of selfs skoene het om mee skool toe te gaan nie of dat daar wonderkinders, sportmanne en musiekmaestro’s is wat nooit die geleentheid sal kry om bo hul omstandighede uit te styg nie."

‘Suid-Afrika het een van die mees ongelyke onderwysstelsels’

Volgens hom is daar sowat 9,6 miljoen honger kinders daagliks in Suid-Afrika. Voedselonsekerheid is gekoppel aan 'n wye reeks gevolge, insluitend sosiale en gedragsprobleme, en word gekoppel aan gesondheidstoestande soos belemmerde groei, swak konsentrasie en lae immuniteit.

“Suid-Afrika het ook een van die mees ongelyke onderwysstelsels ter wêreld, wat gebuk gaan onder swak of afwesige infrastruktuur, oorvol klaskamers en chroniese onderprestasie wat die toekoms van ons kinders en dus ons land in gevaar stel,” sê hy.

In vennootskap met die Atterbury-liefdadigheidstrust samel hy geld in om aanvanklik twee liefdadigheidsorganisasies te ondersteun: Life Community Services in George en die Daantjie-weeskindprojek in Nelspruit.

OFM Nuus cvdw

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.