Inspiration
Geloof hou Kimberley-dominee staande ná kankerskok─── KAREN VAN DER BERG 10:59 Wed, 12 Jun 2024
“Hulle rol het net omgeruil en dié keer het hulle my versorg. Dit was fantasties om te beleef.”
Dit help om ankerpunte in jou lewe te hê wat jou help om vas te hou aan waarhede in moeilike tye. Vir haar was geloof ’n groot ankerpunt.
So vertel ds. Arina Zandberg van Kimberley. Ernstige limfoonkanker is in Oktober verlede jaar by haar gediagnoseer. Dié slegte nuus het gevolg kort op die hakke van die blye tyding dat sy en haar man, Dirk, ‘n baba verwag. Hul baba was uiteindelik op pad nadat hulle lank vir haar gebid het. Hulle moes deur behandeling gaan en Arina het met hulp van kunsmatige bevrugting swanger geword.
Moeilike besluite het ná die verpletterende diagnose gevolg. As Arina nie chemoterapie gekry het nie, kon die kanker versprei en vererger het na volgende fases. As sy chemoterapie ontvang het, kon dit ’n uitwerking op hul ongebore baba hê.

Jana Zandberg is in Januarie gebore. Foto verskaf
Arina se ginekoloog en onkoloog het saam ’n plan beraam en Arina het op 17 weke van die swangerskap met chemoterapie begin. Op 24 April is Jana gebore, heeltemal gesond.
“Dit gaan goed met haar. Sy is nou sewe weke oud en bring ons soveel plesier. Ons geniet haar so,” sê Arina. Die egpaar het ook ’n ouer dogtertjie, Anke (5).

Arina Zandberg saam met haar twee dogters, Jana en Anke. Foto verskaf
Die dominee van die NG Gemeente Kimberley-Bakenskop het op 28 Mei met haar laaste chemoterapie begin en gaan op 20 Junie vir skanderings om te sien of die behandeling gewerk het. “Ons hoop natuurlik alles is skoon en dat (my kanker) in remissie is.”
Arina sê God het haar geseën met wonderlike mense, gelowiges wat in hul duisende saam vir haar bid. “My geloof was een van my ankerpunte, asook die nabyheid van God.”
‘Dit was fantasties om te beleef’
Vir haar gemeente het sy net die hoogste lof. “Hulle rol het net omgeruil en dié keer het hulle my versorg. Dit was fantasties om te beleef.”
Arina sê Dirk en al haar familie en vriende het haar ook toegevou in liefde en ondersteuning. “Ek dink my getuienis gaan wees om hoop vir ander gee. Soms moet ons baie verloor om weer die mooiste ervaring te beleef.”
