Inspiration
Heimweë van een fees met baie stories─── ELZETTE BOUCHER 09:00 Mon, 14 Jul 2025

Die Vrystaat Kunstefees, wat vanjaar sy 25ste bestaansjaar vier, het deur die jare ’n skatkis van stories, klanke en emosies geword – en min mense het dit van so naby beleef soos Elretha Britz, veteraanjoernalis en kunsskrywer.
Britz is al dekades lank ’n vertroude stem in die kunste, en onderhoude met kunstenaars is vir haar meer as net werk. “Dis vir my altyd spesiaal hoe professioneel en geduldig kunstenaars is, al weet jy hulle het eintlik min tyd. Hulle verstaan die waarde van publisiteit – en ek besef dis my werk om hulle stories aan die wêreld bekend te stel.”
Met haar kenmerkende nederigheid en warmte het Britz onlangs teruggekyk op ’n kwart-eeu se betrokkenheid by die fees. “In 2000 was die eerste fees. Dit was die Volksblad Kunstefees en dit was nie in Bloemfontein nie, maar in Kimberley. Ons het met die trein soontoe gery. So jy het gees opgebou nog voor jy daar aangekom het – en veral as jy ná die dag se dinge teruggekom het,” vertel sy.
Haar betrokkenheid by die fees het nie by skryfwerk geëindig nie. In vroeër jare het sy ook gedien op beoordelingskomitees, veral vir musiekproduksies. “Dit was ’n voorreg om te sien wat alles uit die land kom en te help kies wat gaan werk. Met venues soos die Odeon en die Callie is daar ruimte vir alles – van klassieke musiek tot groot kommersiële produksies.”
Een van die grootste troefkaarte van die Vrystaat Kunstefees is die feit dat alles op een kampus plaasvind – ’n praktiese en atmosfeerryke voordeel wat geen ander Suid-Afrikaanse kunstefees kan bied nie. “Jy hoef net ’n ent te stap en jy’s by die volgende produksie of kunstenaar. Dis iets wat jy net hier kry.”
‘Ons kan wêreldklasteater aanbied omdat ons wêreldklasfasiliteite het’
Die geïntegreerde ligging op ’n universiteitskampus bied boonop van die beste fasiliteite vir kunstenaars. “Ons het volledig toegeruste teaters met behoorlike beligting, klank, grimeerruimtes en agterverhooggeriewe. Dis nie nodig dat kunstenaars in skoolsaaltjies optree of hul kostuums agter ’n gordyn moet wissel nie.”
Sy glo dit speel ’n deurslaggewende rol in die gehalte van die produksies wat die Vryfees lok. “Ons kan wêreldklasteater aanbied omdat ons wêreldklasfasiliteite het. En dis wat kunstenaars terugbring hierheen. Dis professioneel, gerieflik, en die tegniese ondersteuning is uitstekend.”
Vir Britz gaan die nalatenskap van die fees oor die behoud van die kunste. “Mense sê maklik die kunste is belangrik – maar eers as jy dit self ervaar, besef jy die impak. Dit vorm jou, dit laat jou lag, laat jou huil, en herinner jou daaraan dat jy deel is van iets groter.”
Sy vertel van die krag van teater en literatuur om die lewe te weerspieël: “Soms is dit komies en jy lag heerlik. Ander kere is dit tragies en dit gryp jou aan. Maar dit laat jou altyd dink – en dalk maak dit van jou ’n voller, gelukkiger mens.”
Vanjaar kan feesgangers hul eie stories en herinneringe skep tydens die Vrystaat Kunstefees, wat van 15 tot 19 Julie in Bloemfontein aangebied word.
OFM is ’n trotse mediaborg van die Vrystaat Kunstefees.
OFM cg