On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Inspiration

Prof. Luwes kyk terug op 25 jaar van feesherinneringe met hoop vir Afrikaanse teater

───   ELZETTE BOUCHER 14:26 Sun, 20 Jul 2025

Prof. Luwes kyk terug op 25 jaar van feesherinneringe met hoop vir Afrikaanse teater | News Article
Elzette Boucher-Kruger en prof. Nico Luwes gesels in OFM se sitkamer op die feesterrein. Foto: OFM

“Dis lekker om te sien dat die harte nog klop vir die kunste – en dat die verhoog steeds plek maak vir waarheid, lag, en lewe.”

Prof. Nico Luwes, dramaturg, regisseur en voormalige departementshoof van Drama aan die Universiteit van die Vrystaat, het op OFM se blou bank met groot nostalgie en trots teruggekyk op die 25-jarige nalatenskap van die Vrystaat Kunstefees – ’n fees wat hy self gehelp vestig het.

“Ons het 25 jaar gelede in ’n klein kantoor in die Teologiegebou begin; Die Volksblad en Jonathan Crowther was groot ondersteuners. Aanvanklik was dit net toneel en musiek, maar vandag is dit ’n nasionale en selfs internasionale fees.”

Luwes se entoesiasme oor die jongste feesprogram is aansteeklik. Hy noem verskeie produksies wat hom diep geraak het: “Seun” met ’n oud-student in die hoofrol, Helen + Annie en Chris Vorster se indrukwekkende solo-optrede. “Ek het gister ‘Speenvark’ ook gesien – ’n stuk wat lank by jou spook. Ons eie produksie ‘Sprankel Versie’ was net een aand op die planke – lig, lawwe limerieke – en mense het dit vreeslik geniet.”

Met meer as 40 toneeltekste agter sy naam, bly Luwes egter besonders lief vir komedie. “Dis ’n moeilike genre, maar dit bring vreugde, en dis wat mense soms die nodigste het. Komedie verdien meer akademiese aandag – dit reflekteer die tydsgees op ’n satiriese manier.”


Luwes het ook die belang van eerlike, gestroopte spel onderstreep – iets wat hy opnuut in produksies soos “Seun” en “Helen + Annie” raakgesien het. “Dis teater soos dit hoort. Jy voel dit in jou hart.”

Hy onthou met trots hoe fasiliteite soos die Wynand Mouton-teater, Odeon en Lens-filmstudio’s oor die jare opgebou is. “Dis ’n wonderlike kampus. Die universiteit en Nasionale Kunsteraad speel ’n onmisbare rol in hierdie fees se sukses.”

Vir hom is dit nie net ’n fees nie – dis ’n leefwêreld wat kunstenaars, studente en gehore saambring. “Jy moet jou gehoor respekteer – dis húlle wat die kunstenaars aan die lewe hou. En ons jongmense? Ek het volle vertroue dat hulle die vaandel sal dra.”

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.