Inspiration
Douglas-juffrou vereer danksy haar passie vir haar gr. R-klas─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:34 Wed, 03 Sep 2025

’n Onderwyseres van die Noord-Kaap sê om gestalte te gee aan die heel eerste stappe van ’n kind se skoolopvoedingsreis is nie net haar beroep nie, maar haar lewensroeping.
Om as die beste gr. R-onderwyseres in Suid-Afrika in 2024 gekroon te word, was ’n nederige en emosionele ervaring vir Melissa du Plessis van Douglas. “Persoonlik voel dit soos bevestiging dat die pad wat ek gekies het, om my lewe in kinders se vormingsjare te belê, die regte een is.
“Elke dag plant ek saad van liefde, selfvertroue en nuuskierigheid in my klaskamer, en om nou so erken te word, maak my net nog meer dankbaar vir die voorreg om dit te doen.”
Melissa du Plessis van Douglas. Foto verskaf
Melissa glo dat gr. R die fondament van elke kind se opvoeding is. Sy beskryf dit as die wortels van ’n boom. As daardie wortels gesond en sterk is, sal die boom lank groei en floreer.
“ ’n Kind se brein groei die vinnigste in die eerste ses jaar van hul lewe. Hulle is soos klein sponse wat alles opsuig,” verduidelik sy. “Deur spel, ontdekking en verbeelding leer ons hulle nie net akademie nie – ons leer hulle deursettingsvermoë, selfvertroue, spanwerk en respek.”
Haar passie vir kinders het op ’n jong ouderdom begin en het oor die jare net sterker geword. “Ek glo ek is op aarde gesit met die roeping om die lewens van kinders aan te raak. Hul energie, eerlikheid en oop harte is ongelooflik vir my,” sê Melissa.
Melissa glo dat gr. R die fondament van elke kind se opvoeding is. Foto ter illustrasie: iStock
Sy sê die vreugde om te sien hoe haar leerders van skaam, onseker kinders tot selfversekerde leerlinge groei, inspireer haar steeds. “Vir my is dit nooit net ’n werk nie, dit is my roeping.”
As jy haar vra wat sy hoop haar kinders uit gr. R verder sal neem, is dit dat ’n kind moet weet dat hulle veilig en geliefd is, en in staat is om te leer. “Sodra ’n kind glo dat hulle dit kan doen, vloei al die ander baie makliker.”
Melissa beklemtoon dat spel die hoeksteen van leer in hierdie stadium is. “Speel is die taal van leer. Gr. R-leerders is nie gemaak om by tafels te sit en deur stapels werkkaarte te werk nie. Hulle moet aktief wees, hul liggame gebruik en al hul sintuie betrek. Dit is hoe hulle die beste leer.”
‘Leer moet groot, konkreet, aktief en pret wees’
As sy terugdink aan haar eie reis, onthou sy hoe grootword in ’n familie van onderwysers aan haar passie vorm gegee het. Nadat sy na die klein dorpie Douglas verhuis het, het haar onderwysers blywende rolmodelle geword.
Vandag beskou sy dit as ’n voorreg om by dieselfde skool te onderrig waar sy self voorheen ’n leerling was.
Haar raad aan nuwe onderwysers is eenvoudig: “Bly weg van te veel papierwerk. Leer moet groot, konkreet, aktief en pret wees. En moenie ophou om van ander te leer nie – veral van kinders. Hulle kan ons soveel leer.”
‘Elke uitdaging is ’n geleentheid om individueel en kreatief te reageer’
Melissa het op 29 Augustus as gasspreker by die SAOU se vroue-in-leierskap-kongres opgetree waar sy hoop haar toespraak die kritieke rol van graad R in onderwys uitgelig het. “Geen enkele onderwyser of fase is belangriker as ’n ander een nie.
“Ons bou almal saam aan die huis. Graad R is nie net nog ’n kleuterklas nie – dit is die eerste stap van formele onderwys en dit is so belangrik.”
Wanneer dit by uitdagings in die klaskamer kom, is Melissa se filosofie gewortel in deernis. “Elke kind is uniek en elke uitdaging is ’n geleentheid om individueel en kreatief te reageer,” verduidelik sy.
Graad R is nie net nog ’n kleuterklas nie – dit is die eerste stap van formele onderwys en dit is belangrik. Foto ter illustrasie: iStock
“Vir kinders met verskillende leerbehoeftes pas ek leer aan deur praktiese aktiwiteite, visuele hulpmiddels of ekstra ondersteuning. En wanneer dit by gedrag kom, kyk ek eers na die kind se wêreld – wat agter die gedrag lê; watter emosies is daar, en hoe kan ek ’n veilige en liefdevolle omgewing skep?”
Sy glo in positiewe versterking, die gebruik van beloningstelsels pleks van straf, en om seker te maak dat geen leerder onsigbaar voel nie. “My doel is altyd dieselfde: elke kind moet gesien en verstaan voel, en steeds die kans hê om te groei en te leer.
“Dit is soms baie uitdagend, maar ook ongelooflik bevredigend.”
Selfvertroue en nuuskierigheid
Melissa kyk verder as toekennings en erkenning en sê haar persoonlike missie as onderwyser is om elke kind gewaardeer te laat voel.
“Ek wil hê hulle moet groei met selfvertroue, nuuskierigheid en ’n liefde vir leer.
“Ek wil hê hulle moet voel dat hulle veilig is en raakgesien word, dat hulle kan probeer sonder om bang te wees om foute te maak, en dat elke dag in die klas ’n avontuur kan wees.”
Wat sy wil nalaat is nie net akademie nie, maar ook menslikheid. Foto ter illustrasie: iStock
En wanneer haar leerders na ’n volgende graad oorgaan, hoop Melissa dat haar impak lewenslank by hulle bly.
“Wat ek wil agterlaat, is nie net akademie nie, maar ook menslikheid. Ek hoop my leerders dra die waardes wat ek in my klas uitleef saam met hulle.
“Wanneer hulle eendag terugkyk na graad R, wil ek hê hulle moet voel asof hulle deel was van ’n plek waar iemand werklik in hulle geglo het – dat hul klaskamer ’n gemaklike, aangename plek was, en dat hul onderwyser soos ’n tweede ma was.”