Inspiration
'Gebruik nuwe veranderinge in belasting tot jou voordeel'─── 12:30 Wed, 20 May 2026
OFM se Pulane Nel-Sekepe en Rudolph Geldenhuys, finansiële beplanner, gesels oor die nuutste veranderinge in persoonlike belasting wat onlangs in werking getree het, en hoe dit tot jou voordeel kan wees.
Rudolph, verduidelik wat die nuutste belastinginligting is om van te weet en gebruik maklike somme as voorbeelde, sodat een en almal dit kan verstaan.
As jy gebruik maak van die belastingvrye beleggingsinstrument om te spaar vir jou of jou kinders se toekoms, is die goeie nuus dat die jaarlikse bydrae van R36 000 verhoog is na R46 000 per jaar.
Die jaarlikse maksimum bydrae tot aftreeannuïteite, pensioenfondse en voorsorgfondse is ook verhoog, van R350 000 na R430 000 per jaar.
As jy 'n bate soos eiendom aangekoop waarvan die waarde vermeerder het, is jy aanspreeklik vir belasting op die wins van die kapitale groei. Vrystelling op die groei in kapitaal was voorheen R40 000 en is nou verhoog na R50 000.
Primêre wonings se vrystelling op winsgroei was voorheen R2 miljoen en is nou verhoog na R3 miljoen.
Skenkings en mediese fondse
Die jaarlikse belastingvrye drempel vir individuele skenkers is verhoog van R100 000 tot R150 000. Getroude paartjies kan kumulatief tot R300 000 belastingvry jaarliks skenk. Die belastingkrediete van siekefondsskemas is ook verhoog.
Jaarlikse vrystellings oor die afgelope paar jare was nie na wense aangepas nie. Dit moedig ook die publiek aan om vir hul oudag te spaar, sodat jy na aftrede nie ’n las op die staat sal wees nie.
"As Suid Afrikaanse burgers mag ons glad nie belasting ontduik nie, maar ons kan absoluut belasting wettiglik verminder om dit so laag as moontlik te kry."
Hy stel voor mense gesels met 'n finansiële beplanner oor hierdie veranderinge en om ingeligte besluite te neem.
OFM Nuus cvdw
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of WhatsApp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

