On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Inspiration

Die groot hart agter The Grace Factory vir moeders en babas

───   SUSAN MARÉ 16:23 Tue, 26 May 2026

Die groot hart agter The Grace Factory vir moeders en babas | News Article
Ellouise van Vuuren saam met haar span by The Grace Factory. Foto verskaf

Die inspirerende verhaal van The Grace Factory het in 2012 begin.

Die stigter, Amy Westerman, het haar eerste dogter, Erin Grace, se gebruikte of oortollige babaklere in haar motor gelaai en as ’n liefdesdaad aan karwagte by ’n Spar-winkel gaan uitdeel. So het sy ’n groot beweging vir moedersorg begin.

Die stigting van The Grace Factory (TGF) het al duisende moeders en babas in nood gehelp. Dis ’n beweging wat nasionaal uitgebrei het.

Amy se eerste kind is die inspirasie vir die naam van TGF. Toe haar tweede kind in 2015 prematuur gebore is, het die organisasie sy fokus uitgebrei na kraampakkies vir prematuur babas.


Sedert 2013 het hierdie liefdadigheidsorganisasie sonder winsoogmerk meer as 29 000 moeders en babas in nood gehelp. Hulle is van noodsaaklike kraampakkies voorsien met die basiese artikels wat nodig is.

Amy se klein begin by motorwagte het eindelik ’n groot moedersorgbeweging geword. Soos ’n sneeubal het die projek gegroei tot ’n amptelike organisasie wat behoeftige moeders en babas in Gauteng en KwaZulu-Natal ondersteun.

Volgelaaide kattebakke by aflaaipunte van TGF het ontwikkel tot ’n nasionale netwerk. Ellouise van Vuuren, wat die Vaaldriehoek-tak op Vanderbijlpark bestuur, sê by TGF gaan dit nie net oor wat hulle doen nie, dit gaan oor mense wat dit moontlik maak.

Pakdag by TGF. Foto verskaf

“Ons span bestaan uit passievolle individue, verenig deur een eenvoudige missie. Ons wil waardigheid en ondersteuning bied aan mammas en babas wat dit die meeste nodig het.

“Ons glo dat wanneer almal bydra, ons ’n wêreld se verskil kan maak. Ons hoop dat mense wat hier lees in ons passie sal inkoop en betrokke sal raak. So kan ons ’n gevoel van waardigheid, sorg en ondersteuning in een van die mees kwesbare en lewensveranderende tye bied.”

Mammas wat nie die noodsaaklike kan bekostig nie word geïdentifiseer met die hulp van maatskaplike werkers, klinieke, hospitale en geregistreerde NPO’s. Elke pakkie help moeder en baba in daardie kritieke vroeë dae met klere, beanies, rome, doeke, en alles wat nodig is.


TGF werk nou saam met staats- en provinsiale hospitale en ontvang geen finansiering nie. “Ons ontvang geen finansiering nie en is geheel en al afhanklik van die goeie gesindheid van individue, klubs, organisasies, maatskappye, geloofsgemeenskappe, skole, en ander. Ons het deurgaans ’n behoefte aan finansiële borgskappe.”

Nuwe of gebruikte babaklere of -artikels kan geskenk word of maak geldskenkings wat belastingaftrekbaar is. Vaardighede om te brei, hekel of naaldwerk vir die projek is ideaal en kan selfs ’n stokperdjie-projek wees vir mense in tehuise vir bejaardes.

“Deel jou vaardighede deur te brei, hekel of naaldwerk doen, baba-mussies, truie, skoentjies, kombersies of herbruikbare borsvoerings. Vlieslap kan in kombersies geknip word,” sê Ellouise.

Oud en jonk werk saam om TGF se werk te doen. Foto verskaf

“Ons vertrou volkome op die vrygewigheid van ondersteuners, vrywilligers en borge in die projek. Elke bydra, groot of klein, word diep waardeer en vind dankbare tuistes.”

Ellouise koördineer vrywilligers wat klere en komberse brei en werk met 64 organisasies. Op soortgelyke wyse lei Sarah Cressey die Johannesburg-tak. Hulle maak ook ouerskappakkies op met basiese artikels soos babygrows, klere, komberse, doeke, room en sanitêre produkte.

Die verspreiding van geskenkte babagoedere aan kinderhuise en organisasies wat vir verlate of weesbabas sorg, is nog een van hul hooftake. ’n Vrywilligersnetwerk van jong kinders tot oumas help met breiwerk, verpakking en verspreiding.

Kontak Sarah in Johannesburg en Ellouise in die Vaaldriehoek of besoek The Grace Factory se webtuiste.

Die TGF het drie takke: Vanderbijlpark, Bryanston (Johannesburg) en Hillcrest (KZN). Die takke word vanuit huise bestuur en daar is nie amptelike kantore nie. Westerman is ná al die jare steeds betrokke.

Ellouise sê die volgende groot geleentheid vir TGF is die 67 Minute van Goedhartigheid op 18 Julie. Die doel is om 1 500 kraampakkies te pak.

OFM Nuus/Susan Maré s

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.m

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.