Inspiration
Weldoener maak beseerde Potchefstroomse hondjie se operasie moontlik─── SUSAN MARÉ 16:42 Wed, 03 Jun 2026
’n Hondjie van Potchefstroom wat ernstig beseer is in ’n motorongeluk, se pyn word verdoof tot sy danksy ’n naamlose weldoener geopereer kan word.
Nadat Lily op 23 Mei deur vermoedelik ’n voertuig gestamp of getrap en ernstig beseer is, is sy Maandag (29/3) by Paws Haven op die dorp gevind. Lily was by vriende van haar mense wat na haar sou kyk, toe sy die aand uitgeglip het.
Almal het na haar gesoek en op sosiale media is ook gevra om haar te help opspoor. Die soektog het byna ’n week geduur. Die uitglippertjie was net nêrens te vinde nie, tot groot ontsteltenis van haar gesin en oppassers.
’n Week nadat Lily verdwyn het, het haar Potchefstroomse gesin haar by Paws Haven in dié dorp opgespoor. Die blydskap het egter in hartseer verander omdat Lily ernstig beseer was. Dit het geblyk dat haar bekkenbeen gebreek is.
DIe beseerde Lily gaan nou danksy ’n weldoener geopereer word. Foto: Potchefstroom Herald
Haar eienaar, Janita de Kock, vertel Lily is na haar verdwyning as vermiste troeteldier op sosiale media aangemeld. Hulle was dankbaar om haar op Maandag op te spoor.
Die minder goeie nuus was dat ’n dringende operasie gedoen moet word wat ongeveer R15 000 sou kos. De Kock het ’n versoek aan die gemeenskap gerig vir skenkings omdat hulle dit nie sou kon bybring nie.
’n Anonieme weldoener het egter na vore getree en die volle bedrag geskenk. Simoné Kotze, ’n direkteur van Paws Haven, vertel Lily is Dinsddag (2/6) deur ’n veearts van die praktyk onder narkose geplaas en deeglik ondersoek.
Hoewel sy gemaklik is en dit lyk of sy net wil huis toe gaan, het die veearts besluit dat chirurgie wel nodig gaan wees. Die operasie self kan na verwagting tussen drie en vyf uur duur, hopelik minder as alles volgens plan verloop.
Die praktyk is egter geweldig besig en Lily se operasie sal later vandeesweek gedoen word. Die goeie nuus is dat sy pynloos gehou word en nie in onmiddellike nood verkeer nie.
“Dit gee ons die geleentheid om haar prosedure behoorlik te beplan en uit te voer. Lily sal ook gesteriliseer moet word, want met haar tipe breuk sal sy nooit normaal kan geboorte gee nie. Danksy die anonieme persoon wat vir ons die R15 000 beskikbaargestel het, kan Paws Haven sy beste vir Lily gee.”
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.


